Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Pandemie is krisis op krisis vir Suid-Afrika se ekonomie

"Die Covid-19-pandemie is ‘n krisis op krisis vir Suid-Afrika se ekonomie en het tot drie miljoen werksverliese gedurende die nasionale inperking gely. Dit was bykomend tot ‘n ekonomie wat reeds op sy knieë was voor die nasionale inperking met ‘n werkloosheidsyfer van 30,1%," sê Heloise Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.

"Die land kon selfs voor die pandemie nie groter werkloosheid bekostig nie en die drie miljoen werksverliese is daarom rampspoedig. Dit beteken drie miljoen huishoudings is sonder enige inkomste met ‘n swak vooruitsig om in ‘n krimpende ekonomie werk te vind.

"Dit laat geen twyfel nie dat Suid-Afrika op ‘n enorme arbeidskrisis afstuur. Daar kan vir eers vergeet word van pres. Cyril Ramaphosa se plan om 275 000 werkgeleenthede per jaar te skep. Die fokus moet eers daarop rus om verdere werksverliese te voorkom en om die ekonomie te stimuleer om ‘n omgewing vir werkskepping daar te stel.

 

"Dit sal egter nie gebeur terwyl regeringsprioriteite só ingrypend verkeerd is dat regeringsbeleid soos ‘n oorlogsverklaring teen sy eie burgers en die ekonomie is nie."

 

"Die privaatsektor is die grootste werkskepper in Suid-Afrika, maar is ook die minister van arbeid se gunsteling sondebok vir enigiets wat fout gaan in die arbeidsmark. Selfs die president weier om toe te gee dat dié sektor belangrik is.

"In hierdie uitdagende arbeidsomgewing speel die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA ) ‘n sleutelrol in arbeidsgeskille en die voorkoming van onbillike afleggings.

"In Junie vanjaar is 16 500 sake by die kommissie aangemeld. Hiervan het 1 800 sake die aflegging van sowat 100 000 werkers geraak. Tog is die program waaronder hierdie liggaam val se begroting met R90 miljoen gesnoei.

"So ook die begrotings van die arbeidsinspektoraat met R48 miljoen. Die openbare indiensnemingsagentskap, die enigste liggaam wat uitvoering kan gee aan die regering se mandaat om werk te skep, se begroting is met R50 miljoen verminder.

"Suid-Afrika raak toenemend ‘n welsynstaat met meer mense wat ‘n maatskaplike toelaag ontvang as mense wat werk en die situasie vererger by die dag. Dit is onvolhoubaar. Tog verminder die begroting van die departement verantwoordelik vir werkskepping."

 

"Die staat kan mense nie uit armoede lig met maatskaplike toelaes nie. Mense moet hulself uit armoede uit werk en dit kan net gebeur indien die ekonomie floreer, klein ondernemings in staat gestel word om sonder voorskriftelike en diskriminerende wetgewing werk te skep en die privaatsektor deur die staat ondersteun word," sê Denner.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.