fbpx
Vryheidsfront Plus

Onteieningswet: ANC kan nie vertrou word nie

Die ANC kan nie vertrou word met grond in Suid-Afrika nie en die VF Plus moedig die publiek daarom aan om hul kommentaar en insette te lewer op die Wysigingswetsontwerp op Onteiening voor die sperdatum op 10 Februarie. 

Verskeie aspekte van die wetsontwerp is vir die VF Plus kommerwekkend aangesien dit die wese van private besitreg skend.

Een voorbeeld is artikel 12(3)(a). Artikel 12 beskryf gevalle waar die staat op “billike en regverdige” gronde, grond sonder vergoeding mag onteien en paragraaf 3(a) lui:

“Waar die grond nie gebruik word nie en die eienaar se hoofdoel nie is om die grond te ontwikkel of dit te gebruik om inkomste te genereer nie, maar om voordeel te trek uit die vermeerdering van die markwaarde”.

 

"Dit is irrasioneel aangesien baie mense in grond belê en daarmee spekuleer soos ander met aandele. Dit dra by tot ‘n gesonde, lewendige stelsel waar grond op die vrye mark verhandel word," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Dit dui ook nie daarop dat die grond nie noodwendig in openbare belang nodig is nie, maar dat dit gebruik kan word vir grondhervorming.

"Die VF Plus se siening was nog altyd dat grondhervorming in die eerste plek moet geskied op ‘n grondslag van gewillige koper, gewillige verkoper. Waar nodig moet ‘n hof die vergoeding bepaal en besluit oor die billikheid van die onteiening.

 

"Hierdie wetsontwerp gee aan die betrokke minister volmag om oor vergoeding te besluit en eers daarna kan die persoon wat onteien word, hof toe gaan om die besluit in dispuut te plaas. Dit gebeur dan op die aansoeker se eie koste."

"Daar is baie tegniese aspekte in die wetsontwerp verskuil agter vae woordspelings wat misbruik kan word vir grondhervorming alhoewel dit onskuldig genoeg voorkom indien onteiening slegs vir die normale doelwitte (soos om 'n pad te bou) gedoen word.

"Die beskrywing van eiendom sluit ook alle vorme eiendom in, roerend, onroerend en selfs intellektuele eiendom.

 

"Die publiek kan egter nie naïef wees oor die implikasie van die wetsontwerp nie. Die ANC is nie te vertrou met so ‘n belangrike wet waar hy alleen kan besluit oor die vertolking van vae omskrywings nie."

 

"Die ANC-regering se beoogde verandering aan Artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, kan geen illusie hieroor laat bestaan nie.

"Die VF Plus is gekant teen enige vorm van onteiening vir grondhervormingsdoeleindes en veral teen onteiening sonder vergoeding. Die party sal daarom hierdie wetsontwerp op elke wyse moontlik teenstaan," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.