"Die VF Plus verwelkom die beslissing van die Grondwethof dat oud-president Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie moet verskyn om te getuig. Dit stuur die regte boodskap aan ander persone wat moontlik nog moet getuig dat hulle dit nie kan ontduik nie," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Daar moet nogtans seker gemaak word dat die strafregtelike klag teen Zuma, toe hy die kommissie sonder toestemming verlaat het, steeds voortgaan en dat hy voor die hof gebring word indien besluit word om hom te vervolg.
"Die VF Plus het reeds oor Zuma se weiering om te getuig gesê niemand is verhewe bo die reg nie.
"Staatskaping het 'n ernstige, langdurige impak op Suid-Afrika en persone wat daarby betrokke was en wat skuldig bevind word, moet verantwoordelik gehou word en voor die hof gebring word."
"Die bewerings wat voor die kommissie teen Zuma gemaak is, is baie ernstig, veral die onlangse getuienis oor sy poging om ‘n parallelle intelligensie-agentskap te stig en groot bedrae geld wat hy van die staatsveiligheidsagentskap (SVA) ontvang het.
"Zuma moet antwoord op hierdie bewerings. Hy het nog altyd op die beskuldigings teen hom geantwoord deur te sê hy wil sy dag in die hof hê om daaroor te getuig. Hy kan nou reeds daarmee begin voor die Zondo-kommissie," sê Groenewald.