Onder die huidige ANC-regering sal toegang tot behoorlike infrastruktuurdienste vir veral die heel armes nie realiseer nie en net ‘n hersenskim bly.
Die kwaliteit en dekking van infrastruktuurdienste soos krag, water, sanitasie, telekommunikasie en vervoer het 'n groot impak op die publiek se lewenstandaard en ‘n land se ekonomiese groei.
Tog is die ANC nie in staat om bestaande infrastruktuur te onderhou nie en dit is daar vir almal om te sien. Treine wat nie loop nie, krag wat meer af is as aan, vervalle water- en rioolinfrastruktuur en ‘n nasionale lugdiens wat buite die armes se bereik is.
In Suid-Afrika het staatsbeheerde monopolievoorsiening van infrastruktuur sinoniem geword met hoë vlakke van vermorsing en ondoeltreffendheid.
Dit is nie net weens swak bestuur, korrupsie en staatskaping nie, maar ook vanweë swak sosialistiese en kommunistiese regeringsbeleid.
Regerings regoor die wêreld, ryk en arm, word gekonfronteer met die probleem van hoe om hul burgers te voorsien van toegang tot doeltreffende, betroubare, veilige en bekostigbare infrastruktuurdienste.
Hierdie uitdaging is veral akuut in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika, met baie lae-inkomste-huishoudings en gemeenskappe en waar digtheid, afstand en beskikbaarheid van hulpbronne dikwels lei tot verhoogde kostes.
‘n Begrip oor waarom behoeftiges nie toegang het tot die nodige infrastruktuurdienste nie, moet eers bepaal word om die toepaslike beleidsreaksie te bepaal.
Die gebrek aan toegang tot dié dienste is dikwels weens ‘n versuim om sulke dienste beskikbaar te stel, of dit is onbekostigbaar vir behoewendes.
In wat nou die ontwikkelde wêreld is, was private maatskappye histories groot rolspelers in die ontwikkeling van netwerkinfrastruktuurdienste en in die uitbreiding van hierdie dienste.
Dit was nie net aan die rykes nie, maar ook aan relatief lae-inkomste huishoudings.
Vir 'n groot deel van die vorige eeu het die meeste regerings geglo die beste wyse om infrastruktuurdienste te voorsien was deur 'n staatsbeheerde monopolie.
Sodoende is ‘n universele diens gelewer, dikwels binne die raamwerk van 'n stelsel van eenvormige nasionale tariewe.
Met hierdie benadering is verwag om voordeel te trek uit ekonomieë van skaal en omvang om toegang tot stabiele befondsing te verkry met ‘n stelsel van kruissubsidies tussen hoë- en lae-inkomste-verbruikers.
Die resultate was teleurstellend. Vordering met die uitbreiding van toegang was stadig en ondoeltreffend, veral in die armste gemeenskappe.
Vooruitgang in tegnologie en ekonomiese denke bied aan beleidmakers vyf hoofbeleidshefbome vir die verbetering van toegang tot infrastruktuurdienste:
Dit is hervormings tot huidige eienaarskap, privatisering teenoor staatsbesit, vryemarkstruktuur teenoor ‘n sosialistiese prysbeleid en subsidie en regulatoriese stelsels.
Onder die ANC-regering sal die voorsiening van infrastruktuurdienste aan al sy inwoners en ekonomiese groei nie realiseer nie omdat hy vasklou aan uitgediende beleidsrigtings en korrupte kaders.
Dit sal eers gebeur indien die ANC-regering vervang word met ‘n doeltreffende koalisieregering met die VF Plus as betroubare koalisievennoot.