fbpx
Vryheidsfront Plus

Onbevoegde personeel en swak bestuur kan Poskantoor steeds laat vou, lui interne dokument

Die SA Poskantoor sal oënskynlik eerder ondergaan voordat hy weens regstellende aksie (RA) bekwame mense in bestuursposte aanstel, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

In ‘n interne dokument van die Poskantoor met die titel; ‘Korporatiewe Strategiese Plan’, in die VF Plus se besit, word ernstige erkennings gemaak oor die faktore wat die Poskantoor tot op die rand van die afgrond gedryf het.

Een hiervan is die onbevoegdheid en lae produktiwiteit van sy werkers op alle vlakke – veral in die bestuur. Meer verstommend is ‘n erkenning dat die bestuursposte tans net 49% gevul is.

Oor die huidige krisis lui die dokument: ‘Duidelike waarskuwingstekens dat die Poskantoor op finansiële rampspoed afstuur, is verdoesel deur swak bestuur wie se inligting aan die Poskantoor-raad sonder vrae aanvaar is. ..’.

Adv. Alberts sê hierdie aspek moet sonder meer ondersoek word. “Die Poskantoor erken self daar is mense in die bestuur wat vir die probleme verantwoordelik gehou moet word. Hulle moet pa staan vir die huidige situasie,” sê adv. Alberts.

Van die probleme wat in die dokument genoem word is:
Leierskap was onstabiel vir die laaste vyf jaar. Leierskapposte is tans 51% vakant. ‘n Suksesvolle regruk-program is onmoontlik sonder ‘n stabiele bestuurspan. So ‘n program is nou van kardinale belang;
Reuse kontantvloei-probleme en opgehoopte skuld;
‘n Gebrek aan geskoolde werkers, onproduktiewe werkers, swak finansiële bestuur en ‘n krimpende inkomste-basis word genoem as die grootste ‘swakhede en bedreigings’;
Verouderde tegnologie; en
Die Poskantoor word reeds die laaste ses jaar teen ‘n verlies bedryf. Die geprojekteerde verlies vir 2015 is R1.75 miljard.

Adv. Alberts sê ‘n voorbeeld van die wanbesteding van geld is die nuwe gehuurde hoofkantoor van die Poskantoor, Echo Park, in Centurion. Die verskuiwing daarheen het R400 miljoen beloop. Intussen staan die vorige hoofkantoor, wat Poskantoor-eiendom is, leeg.

“Hooggeplaaste amptenare wat moontlik aandadig was aan verliese en wanbesteding van miljarde rande, het skotvry weggekom en is boonop beloon met enorme bonusse en goue handdrukke.

“Die vernietigende rol van vakbonde in die Poskantoor-staking weeg ook swaar. Nogtans is die stakers teruggeneem met ‘n verhoging van 6,5% wat teruggedateer tot April 2014. Die kroon hierop is dat stakers vanaf Desember 2014 toegelaat word om verlof terug te koop om op te maak vir hul verlies aan inkomste gedurende die stakings-tydperk.

“Pligsgetroue werkers wat nie gestaak het nie, mag dit egter nie doen nie. Hulle het oor die laaste twee jaar ook geen verhoging ontvang nie en was daar tot onlangs sprake dat 5 000 werkers, wat sonder twyfel meestal wit en deel van die getroue en bekwame werkerskorps sou wees, afgedank gaan word.

“Die vernietigingswerk van regstellende aksie en vakbonde is duidelik te sien op feitlik elke terrein in Suid-Afrika, en nêrens beter as wat nou met die Poskantoor gebeur het en deur homself erken word nie.

“Die boodskap aan Suid-Afrika is dat diegene wat staak, breek en vernietig beloon word, terwyl goeie en getroue werkers ‘n swaard oor die kop het,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.