"Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, het vandag met die semi-virtuele parlementsitting ontwykend geantwoord op ‘n vraag oor die onsekerhede wat verskillende munisipaliteite skep met die verkeerdelike uitreik van permitte aan sakeondernemings en individue," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede.
"Volgens die Regulasies, soos in die staatskoerant gepubliseer, het munisipale owerhede nie die magte en bevoegdhede om enige permitte ten opsigte van die grendelstaat uit te reik nie. Tog is daar munisipaliteite wat permitte vir sakeondernemings en individue uitreik om handel te dryf of om oor munisipale grense te beweeg. In ander gevalle het hierdie owerhede geweier om permitte aan toegelate sakeondernemings uit te reik en het wetstoepassers verkeerdelik die betrokke ondernemings se deure gesluit.
"Nadat sy kennis hiervan aanvanklik ontken het, het sy later toegegee dat sy wel van die probleem bewus was, maar dat daar wel opgetree is om dit reg te stel.
"Die VF Plus het dit in ‘n parlementêre vraag aan die minister gestel dat daar groot verwarring by wetstoepassingsowerhede bestaan oor watter permitte deur sakeondernemings benodig word."
"Sy is gevra wat gedoen gaan word om dit reg te stel en wat die situasie is met moontlike regsgedinge van ondernemings wat verhinder word om sake te bedryf weens die verwarring wat hierdie situasie veroorsaak. Die VF Plus wou ook weet hoe haar departement kommunikasie met munisipale owerhede gaan verbeter en die konsekwente toepassing van die inperkingsregulasies gaan verseker.
"Die VF Plus het tydens die opvolgvraag ‘n permit aan die minister voorgelê wat deur die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad) aan ‘n individu uitgereik is om oor munisipale grense te beweeg vir 'n doktersbesoek, terwyl daar geen permit benodig word vir hierdie tipe beweging nie.
"Die VF Plus vind die antwoord kommerwekkend aangesien dit duidelik wys dat die minister nie bewus is van die nadelige gevolge van die omvattende inperkingsregulasies en die verwarring wat swak kommunikasie en toepassing veroorsaak nie, of dat sy dit probeer verdoesel.
"Volgens die VF Plus verduidelik dit die regering se ongevoelige houding teenoor Suid-Afrikaners wat slagoffers van die verkeerde interpretasie en toepassing van die inperkingsregulasies is. Indien verkeerde interpretasies en swak kommunikasie voortgaan, gaan die gedifferensieerde inperkingsvlakke wat moontlik in verskillende gebiede gaan geld, nog groter verwarring tot gevolg hê," sê Groenewald.