Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, stel blykbaar nie belang in die kwessie van persoonlike keuse of wetenskaplike bewyse rondom rook en Covid-19 nie.
Tydens ‘n virtuele sitting van die nasionale raad van provinsies, het die VF Plus aan die minister gevra om die wetenskaplike feite te verskaf wat as grondslag dien vir die regering se besluit om nie die verbod op die verkoop van tabakprodukte te lig nie.
"Min. Mkhize het geantwoord dat kundige beoordeling vir die besluit nie nodig is nie aangesien die gevare verbonde aan tabakverbruik bekend is," sê Armand Cloete, VF Plus-LP in die NRP.
"Die minister se minagting vir die aanvanklike navorsing oor die verband tussen Covid-19 en rook is kommerwekkend. Om te rook hou wel gesondheidsgevare in. Die minister kon egter nie sê of die huidige regulasies en die gevolglike verbod op sigarette wel op wetenskaplike beginsels gegrond is of nie.
"Insette deur verskeie kundiges stel wetenskaplikes juis in staat om navorsing noukeurig na te gaan om die bevindinge van sodanige navorsing geldig te verklaar al dan nie. Solank as wat die kundigheid nie ter harte geneem word nie, sal die regering se besluit in dié verband agterdog bly wek.
"Elke mens se reg om vir hom- of haarself te besluit, word geskend deur hierdie onwetenskaplike benadering van die regering wat inderwaarheid as ideologies gedrewe gesien kan word."
"Verdere agterdog word gewek deur die minister se houding teenoor 'n onafhanklike ondersoek na die Chinese regering se optrede tydens die Covid-19-uitbraak. Die VF Plus het gevra of die minister sodanige ondersoek, wat reeds deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) goedgekeur is, sal steun.
"Hy het aangedui dat hy nie so 'n ondersoek sal steun nie. Skynbaar wil die ANC-regering eerder sy politieke bande met die kommunistiese Volksrepubliek van China beskerm as om agter die waarheid te kom oor hoe die virus in Wuhan begin en vinnig na die res van die wêreld versprei het omdat inligting oor die virus nie betyds aan die globale gemeenskap beskikbaar gestel is nie.
"Die VF Plus gaan voort met sy dringende hooggeregshof-aansoek om die geldigheid van die Nasionale Rampbestuurswet te betwis en om die hof te vra om te bevind dat die regering die wet misbruik," sê Cloete.