"Daar is nie geld vir water nie, maar Mangaung se metro-munisipaliteit betaal vir ‘n metro-polisiehoof terwyl daar ná ‘n jaar van leë beloftes steeds geen metropolisiediens is nie," sê Armand Cloete, VF Plus LP in die Nasionale Raad van Provinsies.
Die voortslepende watertekort in Mangaung weens agterstallige skuld aan die waterverskaffer, Bloemwater, asook swak instandhouding deur die munisipaliteit, plaas enorme druk op inwoners en plaaslike sakelui
Te midde van hierdie krisis is daar, ‘n jaar nadat die burgemeester van die Mangaung-metro-munisipaliteit aangekondig het dat ‘n metro-polisiehoof aangestel is, steeds geen teken van ‘n polisiediens vir die metro nie.
Die VF Plus het vrae in die Mangaung-metroraad ingedien om uit te vind watter vordering met die metropolisie gemaak is. Die metrobestuur moet ook aandui wat die metro-polisiehoof, Ketsebae Kgamanyane, se salaris beloop.
Cloete sê gedeeltes van Bloemfontein gaan gebuk onder misdaad en verkeer word nie gepolisieer nie. Vuisvoos inwoners sal ook in die komende finansiële jaar meer vir dienste betaal met tariefverhogings wat bo inflasie uitgewerk is.
"Inwoners het die reg om te weet wat die metro-polisiehoof ‘n jaar na sy aanstelling gedoen het om die metropolisie te vestig. Die VF Plus sal ook verdere vrae aan die minister van samewerkende regering rig om te bepaal of die metro-polisiehoof se aanstelling volgens wetlike prosesse gedoen is.
"Die VF Plus verwelkom enige maatreëls om die metro se gemeenskap te beveilig en ‘n effektiewe metropolisiediens is ‘n stap in die regte rigting.
"Die metro kan egter nie aanhou beloftes maak en senior bestuurders aanstel wat salarisse ontvang terwyl dienste nie gelewer word nie," sê Cloete.