Die VF Plus veroordeel ten sterkste die ongemagtigde uitgawes (oorbesteding) van R108 279 588 wat die Mangaung-metro munisipaliteit (Bloemfontein, Van Stadensrus, Wepener en Dewetsdorp), in die 2017/2018-finansiële jaar aangegaan het.
"Die uitgawes wat aangegaan is sonder om daarvoor te begroot ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA), wys dat die ANC-geleide raad en -munisipale bestuur nie deeglik kan beplan wanneer die munisipale begroting opgestel word nie" sê Devar Smit, VF Plus raadslid in die Mangaung Metro-raad.
Smit sê Die Mangaung-metroraad gebruik dieselfde begroting jaar na jaar met slegs etlike klein veranderinge in ‘n poging om dit nuut te laat lyk.
"Die realiteit is dat die ongemagtigde uitgawes die oorsaak is van swak finansiële beplanning deur Mangaung-metro."
"Belastingbetalers betaal dus ‘n maatskappy om teen betaalde munisipale werkers op te tree wat munisipale eiendom beskadig"
Die VF Plus is van mening dat die aansuiweringsbegroting voorsiening kon maak hiervoor. Dit is juis waarom die MFMA voorsiening maak vir só ‘n aansuiwering.
"Die uitvoerende burgemeester ag dit egter belangriker om die ANC se posisie in die munisipaliteit te beskerm, aangesien R15 162 791 ongemagtig bestee was aan kontrakteurs wat dienste moes lewer waarvoor stakende munisipale werkers eintlik verantwoordelik was.
"Die voortslepende probleem met stakende munisipale werkers duur reeds jare en dit wil voorkom of belastingbetalers weereens moet opdok vir die feit dat die ANC vrees om politieke steun van munisipale werkers en vakbonde te verloor.
"Die ANC beskerm homself, werkers en vakbonde ten koste van betalende inwoners. Nagenoeg die helfte van die R108 miljoen ongemagtigde uitgawes is kostes wat aan sekuriteitsmaatskappye bestee is om munisipale personeel en -eiendom te beskerm.
"In meeste van die gevalle waar eiendom of personeel gedurende die afgelope jaar bedreig was, was dit juis stakende munisipale werkers wat tydens die stakings geweld gepleeg het.
"Belastingbetalers betaal dus ‘n maatskappy om teen betaalde munisipale werkers op te tree wat munisipale eiendom beskadig," sê Smit.