“Hoewel Gauteng se premier, David Makhura, tydens sy laaste provinsiale rede in Alberton sy regering se werksaamhede van die afgelope vyf jaar probeer blink vryf het, is dit duidelik dat sy regering die inwoners van Gauteng gefaal het en nie in staat was om Gauteng om te keer in ‘n model provinsie nie,” sê Philip van Staden, VF Plus LPW in Gauteng
Van Staden het in reaksie op die premier se provinsiale rede Maandag gesê verskeie skandale het die provinsie die afgelope vyf jaar getref, onder meer die Esidimeni-tragedie waarby twee van sy voormalige LUR’e betrek was, naamlik Qedani Mahlangu en Brian Hlongwa. Mahlangu en Hlongwa het bygedra tot die vernietiging van die provinsie se gesondheidstelsel en Hlongwa is betrek by beweerde korrupsie van nagenoeg R1.2 miljard.
Van Staden sê in ‘n verklaring die gesondheidstelsel het intussen só agteruit gegaan dat Gwen Ramokgopa in Mahlangu se plek as LUR aangestel is om sake te probeer verbeter, maar sonder enige sukses.
“Die provinsie se infrastruktuur het ook agteruit gegaan en provinsiale geboue, skole, hospitale, paaie en brûe het nie die nodige aandag gekry wat dit moes nie. Die Emfuleni-munisipaliteit het selfs opgehou funksioneer en die nasionale weermag het dié week aangekondig het dat hy nie met die opruiming- en herstelwerk kan voortgaan sonder die nodige befondsing nie.
“Die Hoërskool Driehoek-gebeure is nog vars in almal se geheue en die LUR van onderwys het verlede week aangekondig dat skole in Gauteng rampe is wat wag om te gebeur. Hospitale se dakke het al in duie gestort, soos by die Charlotte Maxeke in Johannesburg en sinkgate kom gereeld op die provinsie se paaie voor.
“Plaaslike regering is ook besig om in duie te stort en munisipaliteite soos Rand West, Merafong en Mogale City gaan gebuk onder swak dienslewering weens fondse wat nie aangewend word nie of soos met die VBS-Bank-skandaal waar belastingbetalers se swaar verdiende geld verduister is.
“Die LUR’e van plaaslike regering in die afgelope vyf jaar, Jakob Mamabolo, Paul Mashatile, en sedert verlede jaar, Uhuru Moiloa, kon nie daarin slaag om plaaslike regering om te swaai in munisipaliteite waar die ANC in Gauteng nog aan die bewind is nie en dit het daartoe gelei dat Emfuleni onder administrasie geplaas was en ander munisipaliteite aan die Wesrand nie meer voldoende kan funksioneer nie.
“Die drie LUR’e kon ook nie daarin slaag om voldoende behuising aan arm mense in die provinsie te verskaf nie en met die provinsiale rede gister het die behuisingsagterstand op 1 miljoen eenhede gestaan. Dit nadat die premier in 2015 in die wetgewer aangekondig het dat alle informele nedersettings teen vanjaar, 2019, uitgewis sou gewees het. Van hierdie belofte het daar dadels gekom.
“Die departement van vervoer in die provinsie was die afgelope vyf jaar redelik bestendig, maar aan die einde van verlede jaar het dinge begin skeefloop nadat die LUR, Ismail Vadi, aangekondig het dat hy provinsiale roetes gaan herdoop na anti-apartheidshelde.
“Hierdie fondse kon eerder gebruik gewees het vir die herstel van sinkgate en die bou van nuwe paaie om die verkeersdruk in Gauteng te verlig. Intussen het probleme aan die einde van 2018 weer begin opvlam by lisensiekantore, wat gelei het tot ‘n hewige agterstand in die uitreik van bestuurderslisensies en die hernuwing van motorvoertuiglisensies.
“Die VF Plus het verlede week in die komitee daarop aangedring dat hierdie probleme dringend ondersoek moet word. E-tol is ook nog ‘n probleem waarvan Makhura nie ontslae kan raak nie en al probeer hy hoe hard om sy misnoeë met die stelsel uit te basuin, bly dit ‘n gegewe dat ‘n onwettige stelsel geïmplementeer is wat nie baie suksesvol is nie en dat die ANC op nasionale vlak nie na Makhura gaan luister nie.
“Onderwys was ook ‘n probleem-departement. Die LUR, Panyaza Lesufi, was die afgelope vyf jaar gereeld in die hof in sy pogings om van Afrikaans en Afrikaanse skole ontslae te raak. Lesufi het telkens sake verloor en teen groot koste hou hy steeds aan om sy politieke wil op skole af te dwing en is sy volle aandag nie by sy departement nie.
“Voldoende skole is die afgelope vyf jaar nie gebou nie en die provinsie gaan gebuk onder ‘n geweldige stryd om leerders betyds in skole geplaas te kry. Hierdie jaar was daar 17000 leerlinge nog sonder skole met die opening in Januarie.
“Maatskaplike Ontwikkeling was ook verlede jaar in ‘n haglike situasie nadat hy nie die toelaes van kinderhuise in die provinsie uitbetaal het nie. Dit het tot gevolg gehad dat baie kinderhuise die gevaar in die gesig moes staar om hul deure te sluit, maar na druk van die VF Plus is die uitbetalings wel gedoen.
“Die VF Plus beskou Makhura se regering van die afgelope vyf jaar niks minder nie as ‘n volslae mislukking nie en die premier se ampstermyn van die afgelope vyf jaar sal onthou word as ‘n termyn vol skandes, skandale en die algehele ineenstorting van dienslewering.
“Inwoners van Gauteng het hierdie komende verkiesing ‘n geleentheid om van die mislukte ANC-regering in Gauteng ontslae te raak en ‘n verantwoordbare en verantwoordelike regering te verkies waarvan die VF Plus deel sal uitmaak om, soos die afgelope vyf jaar, onophoudelik vir die inwoners van die provinsie se wetlike regte te veg en om toe te sien dat voldoende dienste gelewer sal word,” sê Van Staden.
Slaan terug in hierdie verkiesing teen swak dienslewering, korrupsie, misdaad en swak infrastrukture en stem VF Plus om finaal van die ANC in Gauteng ontslae te raak.