fbpx
Vryheidsfront Plus

Krugersdorp verklaar oorlog teen dwelms

Gemeenskappe in Krugersdorp het genoeg gehad van dwelmhandel, mensehandel en buitelandse burgers in hul midde en het hulle daarom na geweld gewend omdat hulle meen die polisie tree nie op nie. Dit kom nie as ‘n verrassing nie en is lank te wagte, sê Amanda de Lange, VF Plus-raadslid vir Mogale City (Krugersdorp).

De Lange sê die betrokke owerhede, insluitende die plaaslike-, provinsiale- en nasionale polisie asook die munisipaliteit van Mogale City, is ‘n dekade gelede, toe sy voorsitter van Krugersdorp se gemeenskapspolisiëringsforum was, gewaarsku teen die groeiende dwelmprobleem.

“Gister is brand gestig by twee polisiekantore en ‘n paar huise in die Krugersdorpse middestad. Talle polisie-, nood- en privaatvoertuie is aan die brand gesteek. Betogers het duidelik buitelandse burgers en die plaaslike polisie geteiken.

“Dit is algemeen bekend dat Krugersdorp bekend staan as die dwelmkern van Gauteng. Die gemeenskap het besluit om reg in eie hande te neem na die ontvoering van ‘n dogter wat later in ‘n sogenaamde dwelmhuis, wat deur buitelanders besit word, gevind is.

“Betogers het op video bevestig dat hulle die polisie in ‘n vergadering in November verlede jaar reeds gevra het om dringend in te gryp, maar dit het nie gebeur nie. Daar is ook gerugte dat sommige polisielede en ander plaaslike regeringsamptenare munt slaan uit dwelmhandel en omgekoop word deur dwelmhandelaars om dit toe te laat.

“Hierdie probleem gaan nie net verdwyn nie. Die inwoners is siek en sat vir die plaaslike regering wat korrupsie toelaat ten koste van die gemeenskap en sê dat die skuld vir die protes vierkantig voor die plaaslike owerhede se deur gelê moet word. Indien die owerhede nie reageer op die gemeenskap se pleidooie nie, is anargie onafwendbaar.

“Hoëvlak-ondersoeke moet ingestel word om die polisielede en plaaslike regeringsamptenare wat betrokke is by dwelmhandelaars en -handel te identifiseer. Dit is duidelik dat inwoners nie meer enige vertroue het in die plaaslike owerhede het nie en daarom bereid is om die reg in eie hande te neem. Die boodskap is duidelik: ‘Doen julle werk of ons doen dit vir julle’.

“Die VF Plus keur nie hierdie optrede goed nie, maar verstaan die inwoners se frustrasies. Die plaaslike owerhede met die skuld kry vir die optrede van die gemeenskap.

“Dit is jammer dat onskuldige inwoners en sakeondernemings negatief geraak word deur hierdie onwettige protesoptredes en die VF Plus sal alles moontlik doen om te verseker dat hierdie saak dringend die aandag ontvang wat dit moet,” sê De Lange.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.