"Die koronavirus is ‘n gemeenskaplike vyand wat alle Suid-Afrikaners bedreig en daar moet daadwerklik hande gevat word om die skade daarvan te beperk," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Die VF Plus verwelkom daarom die oop en eerlike wyse waarop die regering die plaaslike omvang van die koronavirus-pandemie met opposisiepartye bespreek het. Dit dui daarop dui dat die regering nie probeer om die probleem te ontken nie.
"Die VF Plus is tevrede dat die voorkomingsmaatreëls realisties is en dit is belangrik om daarop te let dat baie Suid-Afrikaners meer blootgestel is aan die uitwerking van die virus weens die hoë voorkoms van tuberkulose en MIV/Vigs in die land. Suid-Afrika is om hierdie rede anders as ander wêrelddele waar dit nie die geval is nie.
"Wat die toekoms aanbetref, is dit belangrik om na samewerkingsmodelle te kyk om te verhinder dat die krisis van ‘n nasionale ramptoestand tot ‘n noodtoestand versleg. Dit sal tot gevolg hê dat die weermag aangewend sal word om voorkomende maatreëls af te dwing wat die beweging van landsburgers ernstig sal inperk.
"Die mense van Suid-Afrika kan ‘n groot rol hierin speel deur die amptelike regeringsriglyne en protokol te volg."
"Die VF Plus het president Cyril Ramaphosa en die kabinet versoek om op ‘n gereelde en selfs daaglikse grondslag met die mense van Suid-Afrika oor die aangeleentheid te kommunikeer om duidelikheid te bevorder en sodoende die verspreiding van skadelike waninligting die vermy.
"Die regering is ook versoek om seker te maak dat ontsmettings- en reinigingsmiddels in alle tehuise vir bejaardes in die land geplaas word.
"Indien die publiek die omvang en erns van die toestand waarlik besef en die voorskrifte nakom, kan die skade aansienlik beperk word. Alle Suid-Afrikaners moet hierin saamwerk," sê Groenewald.