Die jaar 2016 is byna iets van die verlede. Elkeen het sekerlik persoonlike uitdagings in die jaar gehad waarvan sommiges suksesvol oorwin en ander teleurstellend verloor is.
In die Suid-Afrikaanse politieke landskap, en ook in die wêreld, is daar baie onsekerhede wat twyfel in die gemoedere van mense skep. Die toenemende vraag is wat is ons toekoms, hoe veilig is ons, sal ons ekonomies oorleef, sal ek nog ‘n werk hê. Sommiges is reeds werkloos en wonder of hulle ‘n werk gaan kry om vir die gesin te kan sorg.
Baie mense dink hulle kan hierdie uitdagings en twyfel in eie krag oorwin, maar dit is nie waar nie, want soos die Bybel sê: In onsself is ons tot niks in staat nie.
Die wonderlike is dat aan die vooraand van die einde van die jaar is daar Kersfees. Die kersboodskap van God wat ons so lief het dat Hy Sy enigste Seun vir ons gestuur het, is om ons moed te gee en te laat weet by Hom is daar altyd hoop.
Het ons in so ’n tyd nie juis die boodskap van Kersfees nodig nie? Dat Hy sy Seun gestuur het om vir al ons sondes te sterf. Genoeg dankbaarheid daarvoor kan ons nie bewys nie. Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig, sê die Bybel. Dit is ook die Vryheidsfront Plus se uitgangspunt.
Graag wens ek u en u geliefdes ’n Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige nuwe jaar toe.
Ter afsluiting onthou die volgende beryming:
“As die lewenstorme woedend om jou slaan
En jy soms mismoedig voel om voort te gaan
“Tel jou seëninge, tel hulle een vir een
En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk.”