fbpx
Vryheidsfront Plus

Kersfeesboodskap 2013

Hierdie of daardie politieke leier gaan ons red, sê die mense. Of sonder hierdie of daardie leier wat nou dood is, is daar geen hoop meer vir ons nie.

Wanneer gaan ons die Bybelse les leer om nie op Prinse te vertrou nie? Ps. 146 stel dit so mooi as daar staan dat jy nie op ’n mens moet vertrou nie. Sy asem verlaat hom en sy planne is daarmee heen. Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig.

Twee duisend jaar gelede stuur God met een beweging, deur die geboorte van Christus, die wêreld in ’n totaal ander rigting. Wat ’n troos dat die toekoms nie deur ons op ons eie uitgekap hoef te word nie – maar in Sy hande is. Met een beweging kan Hy alles oornag nuut en anders maak vir ons – ook in Suid-Afrika.

Einde van die jaar is 'n tyd vir dankie sê. Die VF Plus is dankbaar teenoor sy lojale ondersteuners wat trots ons Christelike- en minderheidsregte benadering ondersteun. Hulle verstaan waaroor dit werklik in Suid-Afrika gaan. Hulle ondersteuning maak ons sterk.

Ons is ook dankbaar vir die belangrike rol wat die media die afgelope jaar gespeel het. Hulle was bereid om die VF Plus as opposisieparty te help om korrupsie en wanadministrasie onbevrees oop te vlek terwyl hulle ook ons inspraak tot op die hoogste politieke vlak ondersteun het. Sonder mediavryheid sal Suid-Afrika geleidelik begin beweeg in die rigting van baie Afrika-state. State wat hulleself demokraties noem maar waar geen koerant of politikus toegelaat word om van die regering te verskil of inspraak te kry nie.

Volgende jaar is daar 'n algemene verkiesing. Mense gaan ons nie red nie, maar as instrumente in God se hande gaan ons by die VF Plus, met u steun, ons bes doen om 2014 op grondvlak, in die parlement en in die kabinet ’n beter jaar vir almal te maak. Mag ons die krag en die wysheid daartoe ontvang.

Ek wens u ’n Geseënde Kersfees en ’n voorspoedige nuwe jaar toe.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.