Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Kersboodskap 2020

Uiteindelik is die jaar 2020 byna iets van die verlede. ‘n Duister jaar vir die wêreld en in besonder ‘n moeilike jaar vir Suid-Afrika.

Dit was ‘n gekompliseerde jaar van ongekende inperkings, onsekerheid, hartseer, vrees, woede, frustrasie, verlies, polarisasie, uitdagings en probleme.

Suid-Afrika is in groot moeilikheid. Die staatskas is leeg geplunder, die ekonomie is in ‘n resessie, werkloosheid is ‘n krisis en die behoefte aan dienste en maatskaplike bystand neem toe. Ons is oor die rand van die afgrond en in ‘n donker tonnel met min voortuitsig vir lig aan die einde solank die ANC in beheer is.

Dit is ‘n voldonge feit dat die huidige fiskale en ekonomiese krisis nie weens die Covid-19-pandemie ontstaan het nie. Dit het die krisis vererger, maar ons was reeds in hierdie gemors lank voor Covid-19 se aankoms in die land.

Misdaad is buite beheer met rooftogte by woonhuise wat hierdie jaar met 8.5% toegeneem het en plaasmoorde met 62.5%.

Ons land was nog nooit so gepolariseerd nie. Die ANC-regering is midde in die geweldige krisisse steeds obsessief oor die verskuiwing van sogenaamde apartheidsbeelde. Ook bly die regerende party se klem op herverdeling en gaan hy voort met die proses om die Grondwet te wysig om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak. Dit is natuurlik niks anders nie as die rondskuif van die dekstoele op die Titanic.

In 'n jaar soos 2020 voel dit asof daar geen hoop vir die toekoms is nie.

Die wonderlike is egter dat aan die vooraand van die einde van die jaar is daar Kersfees. In hierdie mismoedige en onsekere tyd het ons juis die boodskap van Kersfees nodig.

As gelowiges is dit belangrik om Hebreërs 11:1 te onthou: “Om te glo, is om seker te wees van dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Kersfees is ‘n vreugdefees wat ‘n boodskap van hoop bring. Elke Kersfees bevestig God Sy belofte van hoop. God het Sy Seun na die wêreld gestuur om vir ons sondes te sterf. As Jesus ons bron van hoop is, is daar ‘n ewige lig aan die einde van die donker tonnel.

Die VF Plus het gedurende die moeilike jaar hard gewerk in die belang van ons kiesers. Ons openbare ampsbekleërs het onder moeilike omstandighede kiesers bygestaan met ‘n magdom probleme en oplossings bewerkstellig.

Die regering se hantering van die Covid-19-pandemie het gewys hoe ‘n ramptoestand misbruik kan word en het die leemtes in die huidige Rampbestuurswet ontbloot. Die kabinet het sy mag misbruik en irrasionele inperkings daargestel sonder enige parlementêre oorsig.

Daarom het die VF Plus ‘n privaatlidswetontwerp by die parlement ingedien om die Rampbestuurswet te wysig sodat daar meer parlementêre oorsig en deursigtigheid met besluitneming oor regulasies ten tye van ‘n ramptoestand sal wees.

‘n Hoogtepunt vir die party was die verwydering van die sukkelende Mangaung-metromunisipaliteit se burgemeester, me. Olly Mlamleli, deur ‘n mosie van wantroue wat die VF Plus ter tafel gelê het.

Ons het ook tydens tussenverkiesings in verskeie munisipaliteite regoor die land ons 2019-groei voortgesit en nog twee wyke gewen.

‘n Ligpunt in 2020 was die uiteindelike skikking in die Transnet Pensioen-hofsaak wat broodnodige verligting vir dié pensioenarisse bring. Die VF Plus is al vir jare besig met hierdie saak en ons is dankbaar dat daar ‘n positiewe uitkoms in belang van die pensioenarisse was.

Die VF Plus het gedurende die jaar ‘n suksesvolle selfbeskikkingskonferensie aangebied en ons missie herbevestig. Die regering se kombersbenadering met die grendelstaat en gepaardgaande inperkings het weereens beklemtoon dat daar ‘n noodsaak vir die desentralisering van mag is. Ons is daartoe verbind om oplossings te vind en minderheidsregte te bevorder.

Volgende jaar gaan sy eie uitdagings bied. Die stryd teen onteiening sonder vergoeding gaan voort.

Dit is ook volgende jaar die algemene munisipale verkiesings en ons het dus die geleentheid om die ANC se mag te breek. Die VF Plus sal ‘n belangrike koalisievennoot wees om die ANC uit bewind in meer munisipaliteite te hou.

Die oplossing vir baie van ons probleme lê daarin om op te staan vir geregtigheid, saam te staan en sterk te staan. Elkeen van ons kan in diepe afhanklikheid van ons Hemelse Vader hoop bied.

Ek wil elke VF Plus-ondersteuner bedank vir u volgehoue ondersteuning.

Namens die VF Plus wens ek u ‘n Geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige nuwe jaar toe. Geniet die feestyd saam met u geliefdes en mag ons volgende jaar se uitdagings met nuwe durf aanpak.

Laat ons nooit hoop verloor nie. Benedictus van Nursia het gesê: “Hoop is om die melodie in die toekoms te hoor en geloof is om nou reeds op die maat daarvan te dans.”

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.