fbpx
Vryheidsfront Plus

Geloftedag: Waak teen die onsigbare vyand wat Afrikaners se trots wil vernietig

Grepe uit toespraak wat die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, by die Geloftedag-vieringe op Ventersdorp gelewer het

 

Geloftedag kan nie teenoor Versoeningsdag gestel word waar die een teen die ander afgespeel word nie. Die geleentheid moet eerder gebruik word om ‘n wen-wen-situasie te skep vir almal wat dié dag gedenk.

Ek as leier van die VF Plus gedenk Geloftedag aangesien dit deel vorm van die Afrikaner se geskiedenis

Dit is nie vir ‘n regering om te besluit wat vir sekere mense belangrik en van waarde is nie. Dit is die Afrikanervolk self wat moet besluit of hulle nog die gelofte wil vier of nie.

Die ANC praat graag van versoening en Versoeningsdag, maar dit is duidelik dat dit wat die ANC-regering sê en dit wat hy doen, van mekaar verskil.

Dit is kommerwekkend dat daar tans, nieteenstaande lippetaal oor versoening, oënskynlik eerder polarisasie plaasvind tussen wit en swart.

Hier moet die rol wat president Cyril Ramaphosa speel, genoem word. ‘n Voorbeeld is die onlangse gebeure by die Hoërskool Brackenfell waar die president die EFF se optrede verdedig het deur te sê dit was die EFF se grondwetlike reg om ‘n protesoptrede by die skool te hou.

President Ramaphosa het in dié geval kant gekies teen die skool sonder om hom te vergewis van die ware feite. Sy uitsprake skend vryheid tot assosiasie en verydel versoening terwyl dit juis ‘n president se grondwetlike plig is om versoening in Suid-Afrika te bewerkstellig.

Dit maak dit duidelik dat die president nie sy plig nakom in dié verband nie.

Die Afrikanervolk moet besef dat daar in 1838 ‘n sigbare vyand was soos tydens die Slag van Bloedrivier. Die nuwe vyand is ‘n onsigbare vyand.

Hierdie vyand is veel gevaarliker aangesien hy verwoestingswerk ongesiens verrig. Dit is die aanslag op dinge soos die Afrikaner se taal en kultuur in ‘n poging om hom skaam te maak vir wie en wat hy is.

Voeg hierby die voortdurende beskuldigings dat alles wat fout gaan in die land die wittes se skuld is en dat hulle die grond in die land van ander ‘gesteel’ het.

Dit is hierdie onsigbare vyand waarteen die Afrikaner hom moet staal vir die toekoms. Om dit te vermag moet hy homself bemagtig met kennis oor sy kultuur en geskiedenis.

Die waarheid is dat Afrikaners wat in hierdie land aangekom het net opgebou het tot almal in die land se voordeel. Wees trots daarop en bou voort op die Afrikaner se kultuur as bouers en nie as afbrekers nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.