Die ANC-regering se oordrewe beheptheid met ras, ook op die sportveld, is goed geïllustreer deur die minister van sport, Tokozile Xasa, se oorhaastigheid om met die Supersport/Ashwin Willemse-voorval dadelik kant te kies en sonder meer van die voorval ‘n rasse-kwessie te maak, het adv. Anton Alberts, VF Plus parlementêre woordvoerder vir sport en ontspanning gesê.
Alberts het in reaksie op die begroting van dié departement in 'n parlementêre debat Dinsdag daarop gewys dat Supersport self met ‘n ondersoek bevind het die voorval niks met ras te gehad het nie en die minste wat die minister kan doen, is om aan alle Suid-Afrikaners om verskoning te vra dat sy Willemse se mede-aanbieders deur haar ondeurdagte optrede met die rassekwas bygekom het.
"Meriete moet die enigste maatstaf in sport wees"
Alberts sê die regering se beleid oor sport is om minderheidsdeelname deur gedwonge kwotas eindelik uit te skakel en nie net te skei soos met apartheid nie.
Hy sê die vorige minister, Fikile Mbalula, het nasionale sportliggame in dié verband selfs gedreig met onttrekking van akkreditasie en ‘n verbod aan internasionale deelname.
"Artikel 9(1) van Suid-Afrika se Grondwet stel almal is gelyk voor die reg. Artikel 9(2) maak voorsiening vir die regstelling van ongelykhede in ons samelewing. Daar is niks fout daarmee om ongelykhede te behandel nie, maar dit moet gedoen word deur die skep van gelyke geleenthede en nie gelykheid van uitkomste ten koste van minderhede nie.
"Die terme “transformasie” en “demografiese verteenwoordiging” wil gelyke uitkomste verseker, en die VF Plus is van mening dit is ongrondwetlik aangesien dit in stryd staan met artikel 9(2). Dit kan aan die hand van ‘n Grondwethof-beslissing as volg verduidelik word:
"Indien ons kennis neem van die feit dat baie sportmanne en -vroue in diens van sportverenigings is, dan is enige optrede van die regering om kwotas af te dwing om demografies verteenwoordigend te wees, inherent ongrondwetlik.
"Ook van belang is dat artikel 9(2) diskriminasie in die vorige en huidige bestel aanspreek. Dit beteken dat enige diskriminasie deur die regering wat vandag plaasvind, ook reggestel moet word. Die implikasie is dat 'n sportspan of sportsoort wat te veel swart deelnemers het, verander moet word om minderhede te akkommodeer. Sokker is ‘n voorbeeld waar wit, bruin en Indiërs meestal onderverteenwoordig is.
"Die absurditeit van sosiale manipulering kan duidelik hieruit gesien word. Meriete moet die enigste maatstaf in sport wees. Persone wat om die verkeerde redes gekies word, is gedoem tot mislukking en dit is net hierdie mense en sport in sy geheel wat daaronder ly aangesien toeskouers wegbly en inkomste daal. Almal verloor in die proses.
"Skep eerder gelyke geleenthede. Sportmanne wat presteer is geliefd en gewild onder alle toeskouers, ongeag hul kleur.
"Dit is daarom belangrik dat die regering daarop fokus om geleenthede te skep, veral in die arm gebiede waar bykans geen sportvelde of afrigters is nie. Ek het die vorige minister Fikile Mbalula gereeld gevra waar is sy sportvelde in die minder gegoede gebiede. Wat word gedoen met die geld wat die fiskus aan sport toewys?
"Ek wag steeds op ‘n antwoord," het Alberts gesê.