fbpx
Vryheidsfront Plus

Hofuitsprake oor Eskom en kragafsluitings: Nasionale regering kan nie langer die probleem ontduik

"Onlangse hofuitsprake wat Eskom verbied om munisipaliteite se kragtoevoer af te sny indien die besluit “irrasioneel en onredelik” is en dat nasionale tesourie by die proses betrek moet word, stuur ‘n duidelike boodskap aan die nasionale regering dat hy die probleem nie langer kan ontduik nie," sê Michal Groenewald, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van samewerkende regering.

"In die jongste uitspraak van die hooggeregshof in Bloemfontein het die hof gelas dat munisipale skuld aan Eskom deur onderhandeling in oorleg met nasionale tesourie besleg moet word.

"Die VF Plus verwelkom die stap. Die wet bepaal reeds dat die provinsiale uitvoerende komitee, die nasionale energiereguleerder (Nersa) en die nasionale tesourie saam moet werk om oplossings vir die skuldkwessie tussen munisipaliteite en Eskom te vind.

"Hierdie wetlike vereistes moet nou nagekom word en die nasionale regering kan en moet direk betrokke raak om die saak te beredder. Hy kan nie langer die probleem ontduik of op ‘n kosmetiese wyse probeer regstel deur nog ‘n taakspan wat niks uitrig nie.

"Die omvattende probleem moet op ‘n eerlike en holistiese wyse benader word waar alle faktore in berekening gebring moet word. Van historiese skuld tot betalingsooreenkomste en die mislukking van onvolhoubare afbetalingsooreenkomste wat geen werklike oplossing bied nie.

 

"Wat die hofuitspraak self aanbetref, verwelkom die VF Plus die beslissing aangesien betalende persone en veral sake-ondernemings wat getrou hul krag betaal, onredelik benadeel word met kragafsluitings."

 

"Die hof het nou gelas dat Eskom en die Nketoana-munisipaliteit (Reitz, Petrus Steyn, Ntha en Lindley) in die Vrystaat, ses maande het om hul dispuut oor Nketoana se skuld aan Eskom uit te stryk en dat die geskil met onderhandeling besleg moet word.

"Nketoane skuld Eskom meer as R300 miljoen, maar betwis die bedrag. Hy het ook nie die geld om die skuld te betaal nie en pak die skuld hiervoor op finansiële wanbestuur deur “gewetenlose en korrupte” amptenare.

"Die VF Plus is van mening dat hierdie rede aangevoer sal kan word in elke geval van wanbetaling. Die ander rede is die onbevoegdheid van amptenare wat munisipaliteite onder ANC-beheer, bestuur.

"Die hof se bevinding dat dit irrasioneel van Eskom sou wees om Nketoana se krag af te sny omdat hy nie geld het nie, sal waarskynlik geld in die meeste gevalle van wanbetaling en kom in effek neer op ‘n landwye voorskrif waar geld aan Eskom uitstaande is.

"Die VF Plus sal in alle gevalle waar hy inspraak het, groot druk op munisipaliteite plaas om onderhandelings met al die betrokke rolspelers oor skuld ernstig te benader om oplossings te vind," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.