fbpx
Vryheidsfront Plus

Grootskaalse verval van land se paaie raak onafwendbaar

Indien die agteruitgang van die land se paaie nie vinnig omgekeer word nie, is grootskaalse verval onafwendbaar en kan dit enige hoop op ekonomiese herstel en groei ongedaan maak.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het in die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer erken dat daar oor tien jaar ‘n totale verval van die land se pad-infrastruktuur sal wees indien die huidige situasie voortduur.

Hy het nogtans in reaksie op spesifieke vrae van die VF Plus oor die probleem met slag- en sinkgate onderneem om die herstel daarvan te ‘prioritiseer’.

Die slegte nuus is egter dat die situasie waarskynlik gaan voortduur aangesien die minister ook erken het daar is nie geld om agterstallige herstelwerk aan paaie te doen nie.

Hiervoor pak hy onder meer die skuld op die vorige minister van finansies, Tito Mboweni, nadat nasionale tesourie provinsies se pad-instandhoudingstoelae in die 2019/20-boekjaar met 15% besnoei het.

Dit is egter ver van die waarheid. Dit is algemeen bekend dat die verval van die land en sy paaie byna drie dekades gelede begin het nadat die ANC aan bewind gekom het as regering.

Soos op elke gebied waar die ANC regeer, is instandhouding op die agterste plaat geskuif en alle waarskuwings oor verval is verontagsaam.

Reeds in 2014 was die krisis oor die verval van paaie so groot dat die departement van vervoer voor die parlement getuig het dit is ‘n krisis en sou R149 miljard beloop net om die agterstand in instandhouding uit te wis. (Netwerk24: Paaie in SA uiters swak, hoor hoës: 10 Julie 2014).

Volgens die departement self was 173 000km van die land se munisipale paaie toe al in ‘n “slegte of baie slegte” toestand. Dit is waar die padinfrastruktuur verval en beduidende rehabilitasie nodig is.

Die situasie het sedertdien so verswak dat meer as die helfte van die land se grondpaaie en ‘n derde van die sekondêre teerpaaie volgens die maatskappy Frost & Sullivan teen 2021 “swak tot baie swak” was. Dit sluit ‘n kwart van metropolitaanse paaie in.

Volgens ‘n navorsingsverslag van die maatskappy is dit veral die Oos-Kaap, Vrystaat, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes wat die ‘stryd verloor’ om selfs net die agterstand in instandhouding uit te wis.

Luidens navorsing van die Universiteit van Kaapstad sou dit teen 2019 reeds R417 miljard beloop om agterstallige instandhouding in te haal (Netwerk24: SA paaie: Stryd word verloor: 27 Julie 2021).

Hierdie verval kom teen die agtergrond van ‘n spoorvervoerstelsel wat ook grootliks in duie gestort het en ‘n stotterende ekonomie.

Hoe slegter die ekonomie en hoe minder geld vir instandhouding, hoe geringer die kans op ekonomiese herlewing. Dit terwyl die een die ander nodig het om te herstel en te oorleef.

Selfs al sou die R419 miljard gevind word, weet die VF Plus steeds nie hoeveel daarvan sou verdwyn en hoeveel aangewend sou word om paaie te herstel nie.

Dit is die haglike toestand waarin die land verkeer onder ‘n regering wat sedert 1994 net na homself en sy kaders omgesien het terwyl die land sienderoë verval het.

Die land en sy mense kan die ANC nie langer bekostig nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.