fbpx
Vryheidsfront Plus

Govan Mbeki-munisipaliteit in moeilikheid weens wanadministrasie en korrupsie

Die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (GMM) (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) is in meer moeilikheid as wat inwoners besef.

Selfs die ouditeur-generaal (OG) vra kommerwekkende vrae oor die finansiële bestuur van dié munisipaliteit.

Die OG se jongste verslag is na die komitee vir munisipale openbare rekeninge (MPAC) verwys en verlede Donderdag uiteindelik vir bespreking voorgelê.

Die OG se kommer oor die algehele stand van die GMM kom as geen verrassing vir die VF Plus nie.

Die OG het veral sy kommer uitgespreek oor die tekort aan tegniese personeel en wanadministrasie.

Die GMM het ook geen voorkomende maatreëls in plek gehad om ongemagtigde en onreëlmatige besteding te bekamp of te voorkom nie.

Aangesien daar geen interne kontrolestelsel in plek was nie, is goedere onder die bedrag van R200 000 aangekoop sonder om eers kwotasies te bekom.

Verskeie maatreëls van die munisipale voorsieningsketting-regulasies is ook oortree.

Die VF Plus het telkens in die verlede die burgemeester, Nhlakanipho Zuma, versoek om daadwerklik daarop te fokus om ‘n omkeerplan in werking te stel.

Dit het nooit gebeur nie en die munisipaliteit se hoë water- en kragverliese, asook ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende uitgawes, verhoog met elke finansiële jaar.

Dis nog altyd die VF Plus se standpunt dat munisipaliteite poste vul met die beste kandidate om sodoende wanfunksionele munisipaliteite reg te ruk tot voordeel van alle inwoners. Dit is dringend noodsaaklik om weg te doen met regstellende aksie (RA) en kaderontplooiing.

Die finansiële volhoubaarheid van die GMM is vir elke inwoner van kardinale belang.

Die VF Plus sal voortgaan om die burgemeester verantwoordbaar te hou vir die wanadministrasie en swak dienslewering.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.