"Die Gautreinse bestuursagentskap, Bombela, moet verduidelik waarom hy aan die United National Transport Union (Untu) gesê het dat Gautrein se winste aan ‘n Franse maatskappy gaan," sê Philip van Staden, VF Plus LPW in Gauteng.
Hierdie beweringe word tans deur Untu in die media gemaak.
Die VF Plus sien hierdie bewering as uiters ontstellend en skokkend en Bombela moet verduidelik waarom sy winste glo landuit gestuur word en waarom dit nie terug na Bombela gekanaliseer word nie.
Die Gautrein-bestuursagentskap ontvang jaarliks ‘n stewige bedrag geld van Gauteng se provinsiale regering om sy werksaamhede en dienste te kan verrig. Hierdie entiteit het vir die 2018/19-finansiële jaar 25% van Gauteng se departement van vervoer se totale begroting van R7,6 miljard ontvang. Dit kom neer op ‘n bedrag van sowat R2 miljard.
Die VF Plus is van mening dat Gautrein besig is om sy hand te oorspeel en dat die LUR van vervoer, Ismail Vadi, dadelik hierdie beweringe moet ondersoek en ingryp voordat sake lelik skeefloop in Bombela.
"Die departement van vervoer in Gauteng kan dit nie bekostig om geld wat jaarliks aan Gautrein gegee word, te verloor nie. Met die departement se huidige begroting van R7,6 miljard kan hy nie eens die paaie en sinkgate herstel, nuwe paaie bou of in stand hou nie.
"Die VF Plus gaan eerskomende Donderdag, 2 Augustus 2018, in die paaie- en vervoerkomitee van die Gautengse wetgewer antwoorde oor hierdie bewerings eis. Dit het ook onlangs aan die lig gekom dat in die 2016/17-boekjaar Bombela R20.3 miljoen afgestaan het aan regskostes," sê Van Staden.
Die VF Plus het reeds op 22 Mei 2018 versoek dat klarigheid gegee moet word oor hierdie sake. Die komitee moet eerskomende Donderdag hieroor ‘n verslag van Bombela ontvang.