Die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Breyten, Chrissiesmeer, Davel, Ermelo, Lothair) se stortingsterrein in Ermelo is so oorvol dat munisipale vullisvragmotors en die publiek nie toegang tot die terrein kan verkry nie.
Weens verwaarlosing en wanbestuur hou die munisipale stortingsterrein nou 'n gesondheidsrisiko vir inwoners in. Dit het ook gelei tot onwettige vullisstortings regoor die dorp.
Die VF Plus het die terrein besoek en is tans besig met skrywes aan verantwoordelike amptenare en verkose persone op munisipale sowel as provinsiale vlak.
Kernfaktore wat bydra tot onwettige storting sluit in onvoldoende rommelverwyderingsdienste, vertragings in vullisversameling deur die munisipaliteit en die totale afwesigheid van enige formele verwyderingstelsel by informele nedersettings.
'n Gebrek aan bewustheid is ook 'n bydraende faktor. Dit is noodsaaklik dat die munisipaliteit 'n kultuur op gemeenskapsvlak ontwikkel om onwettige storting te ontmoedig en 'n skoon omgewing te bevorder.
Hierdie bewustheid bestaan tans nie in informele gemeenskappe nie.
Indien die munisipaliteit nie dringend ingryp by die terrein nie, sal die VF Plus genoop wees om 'n klag by die Groen Skerpioene in te dien.
Volgens 'n oudit wat AfriForum uitgevoer het, het die Ermelo-stortingsterrein se wetlike nakomingspersentasie aangaande omgewingveiligheid sedert 2015 skerp gedaal.
In 2015 was dit 84% en die jongste syfer is nou 18%. 'n Minimum vereiste van 80% word vereis.
Die munisipaliteit verskaf ook nie infrastruktuur vir rommelverwydering aan informele nedersettings nie, en as gevolg daarvan word vullis op enige onvanpaste manier weggegooi.
Dit is noodsaaklik dat die munisipaliteit 'n dringende plan maak met die oorvol stortingsterrein, sodat verdere onwettige storting verhoed word.