Nieteenstaande uitsprake van vroeër vandeesweek dat herstelwerk die afgelope Maandag by die Sebokeng-rioolaanleg in Emfuleni (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) begin het, het dit nog steeds nie plaasgevind nie.
Die VF Plus het bewyse ontvang dat nie minder nie as sestien pompe by hierdie aanlegte glad nie funksioneer nie. Hierdie bewyse is gister aan die VF Plus oorhandig en dit dui daarop dat Emfuleni reeds in ‘n humanitêre krisis gedompel is.
Die situasie veroorsaak dat riool in die stormwaterkanale beland asook in die spruit wat na die Vaalrivier vloei. Die VF Plus se raadslid in Emfuleni, Gerda Senekal, het dit vasgestel in ‘n ter plaatse ondersoek.
Op foto’s wat Senekal geneem het, kan gesien word hoe die riool op plekke enkeldiep is. Die VF Plus het ook die saak reeds sewentien keer sonder sukses by die provinsie se departement van water en sanitasie aangemeld en elke keer ‘n verwysingsnommer gekry en soms selfs die valse versekering dat herstelwerk wel gedoen is.
"Intussen raak die situasie op die dorp ‘n onhoubare gesondheidskrisis," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.
By die Hoërskool Vanderbijlpark loop rou riool nou op vele plekke op die skoolgronde en die skool se sportvelde is byna toe onder rou riool.
Dit veroorsaak ‘n ernstige gesondheidsrisiko en na verneem word het personeel en leerlinge van die skool reeds vermoedelik hieroor begin siek word. Plaasboere in die gemeenskap kan ook nie meer hul lande uit die Vaalrivier besproei nie.
"Die VF Plus word nou met geen ander keuse gelaat nie as om die saak as uiters dringend op te neem met die minister van samewerkende regering.
"Dit is duidelik dat Gauteng se provinsiale regering, wat Emfuleni onder administrasie geplaas het, geen idee het hoe om die administrasieproses te bestuur nie en dat Emfuleni nou nog slegter af is as voorheen.
"Gauteng is met hierdie lakse optrede besig om hom bloot te stel aan groot eise van die publiek.
"Premier David Makhura, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Uhuru Moiloa, die LUR vir infrastruktuurontwikkeling, Jacob Mamabolo en die LUR vir finansies, Barbare Creecy, sal verantwoordelik gehou word vir die humanitêre krisis waarin Emfuleni verkeer," sê Van Staden.