Die Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensneming, wat sopas in die parlement aanvaar is, plaas 'n verdere meulsteen om die nek van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit gaan die broodnodige ekonomiese groei wat vir werkskepping nodig is, verder beperk en ons arbeidsbedeling meer rigied maak. Dit is presies die teenoorgestelde van wat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) vir Suid-Afrika aanbeveel het oor hoe om ekonomiese groei en werkskepping te verbeter.
Die wysigings maak dit moontlik om op ’n baie groter skaal as tans teen wit, bruin en Indiër Suid-Afrikaners, net op grond van hulle ras, te diskrimineer. Waar in die verlede in die samestelling van ’n besigheid se werksmag toegewings ten opsigte van spesifieke vaardighede en beskikbare vakatures gemaak is, is dit nou alles geskrap. Dit vernietig alle pogings om na twintig jaar geleidelik te begin wegbeweeg van rasgebaseerde regstellende aksie. Die droom van ’n gelyke samelewing sonder rassediskriminasie, soos artikel 9 van die grondwet in die vooruitsig stel, word hierdeur verder ondergeskik aan die ANC se rasse-ideologie gestel.
Die nuutste wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming gee ook aansienlik groter inmengingsbevoegdhede aan die regering in die privaatsektor. Die Wet maak voorsiening vir reuse boetes as ’n besigheid nie spesifieke regeringsopdragte uitvoer nie. Dit sal opdragte wees oor hoe die spesifieke besigheid op rassegrondslag hulle personeelsamestelling moet verander.
Die drakoniese magte van die wetsontwerp gaan sonder twyfel sommige besighede dwing om eerder hulle deure te sluit as om die risiko van sulke boetes te loop.
Dit bly onverklaarbaar hoe die DA hierdie wetswysigings kan steun aangesien dit op rassegrondslag regstreeks teen ’n groot deel van hulle wit-, bruin- en Indiër-magsbasis diskrimineer. Die huidige DA-standpunt verskil ook regstreeks van die vorige DA-leier, Tony Leon, se standpunt toe hy hierdie tipe regstelling namens die DA veroordeel het (Parlement-20 Augustus 1998) en dit as ’n vernietigende stuk sosiale manipulasie (pernicious piece of social engineering) beskryf het.
Die VF Plus, wat teen die wetgewing gestem het, glo dat Suid-Afrika tans die bes gekwalifiseerde arbeidsmag nodig het om die ekonomie te laat groei. Daarom is die VF Plus in beginsel gekant teen hierdie tipe staatsinmenging in die arbeidsmark.