Die Dipaleseng-plaaslike munisipaliteit (Balfour, Greylingstad, Grootvlei) se voorgestelde begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2023/24-finansiële jaar skets dalk ‘n mooi prentjie, maar is prakties onuitvoerbaar.
Die munisipaliteit se geskiedenis van gefaalde implementering en wanbestuur van die GOP laat veel te wense oor.
Enige voorgestelde verhogings van tariewe en heffings sal ‘n onbekostigbare las op die betalende verbruiker plaas en nie die munisipaliteit uit sy finansiële krisis red nie.
Die voorgestelde begroting is tans sowat R1,7 miljard, maar nuwe infrastruktuur kan nie gebou word as bestaande infrastruktuur nie in stand gehou word.
Dit is histories bewys dat daar inteendeel te min begroot word vir die instandhouding en opgradering van die watervoorsienings- en rioleringsnetwerke van die munisipaliteit, terwyl buitensporige bedrae elders bestee word.
Die munisipaliteit behoort sterker klem te lê op die invordering van debiteure en die beperking van water- en elektrisiteitsverliese.
Die VF Plus kan nie ‘n begroting ondersteun wat voorsiening maak vir luukse uitgawes terwyl die infrastruktuur- en diensleweringsnood in die munisipaliteit agterweë gelaat word nie.
Van die doelwitte in die ontwikkelingsplan is ook al vir etlike jare op die agenda en van hierdie planne het nog nooit gerealiseer nie.
Die VF Plus doen ‘n dringende beroep op die munisipaliteit om toe te sien dat dit nie in hierdie termyn weer gebeur nie.