"Die geveg om grond en onteiening sonder vergoeding begin nou eers," sê dr Corné Mulder, VF Plus-parlementêre hoofsweep.
Mulder sê die ingrypende besluit van die parlement se grondwetlike hersieningskomitee vandag om nieteenstaande groot openbare weerstand die groen lig te gee om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, beteken nie die proses is finaal nie.
Die VF Plus was deurlopend aan die voorpunt van die stryd teen onteiening sonder vergoeding en sal voortgaan om die ANC en die EFF hierin te opponeer.
"Die party sal voortgaan met onder meer internasionale bewusmaking van dié aangeleentheid en sal op 27 November vanjaar, wanneer die verslag van die grondwetlike hersieningskomitee in die parlement gedebatteer word, weer aan die voorpunt staan van hierdie stryd om eiendomsreg in Suid-Afrika.
"Die moontlikheid van ‘n regsproses om die besluit van die komitee ter syde te laat stel, is ook ‘n opsie aangesien die proses wat die komitee gevolg het, gebrekkig was, en deurspek van foute.
"Hierdie optrede van die ANC-regering wys opnuut dat die publiek nou moet opstaan, betrokke moet raak en saam met die VF Plus terugslaan teen die ANC wat Suid-Afrika op ‘n pad van totale vernietiging lei," sê Mulder.