fbpx
Vryheidsfront Plus

Delf dieper in lisensiekantore-bedrog in Gauteng

Die VF Plus stel voor dat daar dieper gedelf moet word by die lisensiekantore in Gauteng om alle korrupsie en bedrog uit te wis.

Dit volg nadat daar verlede week nie minder nie as 13 amptenare by lisensiekantore in onderskeidelik Germiston, Alberton, Bedfordview en Benoni in hegtenis geneem is.  Een van die persone was ‘n toesighouer in een van die kantore.

Die amptenare het munisipaliteite en die provinsiale departement van vervoer sowat R80 miljoen gekos in onwettige transaksies. Hierdie transaksies het behels dat voertuie met agterstallige lisensiegelde in eienaars se name geregistreer is wat reeds oorlede is om sodoende die skulde van die e-Natis stelsel te verwyder.

Dit word gewoonlik gedoen deur die registrasiedatum of aankoopdatum van die voertuig terug te skuif voor die vervaldatum van die lisensie en sodoende word die boetes nie gehef nie. Dit is onseker of daar enige dokumentasie ingehandig is om hierdie voertuie op dooie mense se name te registreer en of die amptenare dit sonder dokumentasie gedoen het.

"Ons glo dat ondersoekbeamptes en Gauteng se departement van vervoer ondersoeke na korrupte bedrywighede in die provinsie se lisensiekantore nie net moet beperk tot gewone amptenare wat direk met die publiek werk nie, maar ook dieper moet begin delf na meer senior amptenare om korrupsie en bedrog in die stelsel heeltemal uit te wis," sê Philip van Staden, VF Plus LPW in Gauteng.

"Hierdie ondersoeke moet vanaf die mees senior persoon tot by die kassier geloods word.

"Die VF Plus sal die Gautengse wetgewer se komitee oor paaie en vervoer versoek dat hierdie ondersoeke wyer uitgebrei moet word.

"Die party is van mening dat die groot rotte wat agter hierdie korrupsie sit, ook uitgedryf moet word en dat die aandag nie net by gewone amptenare gelaat moet word nie," sê Van Staden.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.