fbpx
Vryheidsfront Plus

Burgemeester en raadslede gyselaar gehou by Rand West-munisipaliteit

Die burgemeester en alle raadslede van die Rand West-munisipaliteit ( Randfontein, Westonaria) aan die Gautengse Wesrand, was sedert gistermiddag in die raadsaal van die munisipaliteit as gyselaars aangehou deur lede van ‘n nie-erkende vakbond, MAHUSA.

Lede van MAHUSA het die raadsaal se deure met kettings en slotte toegesluit en die burgemeester en raadslede sedert 14:00 sonder enige kos of water gelaat. Niemand was toegelaat om uit te gaan alvorens al die personeel se geld uitbetaal is nie.

Personeel van die plaaslike brandweer- en ambulansdienste het ook die raadsaal met brandweerwaens en ambulanse omsingel. Die personeel van die munisipaliteit het tot hierdie daad oorgegaan omrede die burgemeester, raadslede, hoofde van departemente en alle ander werknemers van die munisipaliteit nie hierdie maand betaling ontvang het nie.

Verskeie personeellede van die munisipaliteit kon sedert September nie hul maandelikse finansiële verpligtinge nakom nie en verskeie families staan nou die kans om hul motors en huise te verloor.

Volgens bronne binne in die munisipaliteit kon die betrokke raad ook nie sy BTW-betalings maak nie en diensverskaffers kon ook nie betaal word nie.

Volgens die VF Plus se raadslid in die munisipaliteit, Ben van der Berg, het erge finansiële probleme reeds in September sy kop begin uitsteek. Van der Berg het toe reeds die munisipaliteit gewaarsku dat dinge op ‘n ramp sou uitloop.

Die Rand West-munisipaliteit was een van die munisipaliteite wat R77 miljoen verloor het met die VBS-skandaal. Die munisipaliteit het probeer om die finansiële verlies op te maak deur elektrisiteit-, riool- en eiendomsbelasting drasties te verhoog, maar die skrif was reeds aan die muur.

Die VF Plus se LPW in Gauteng, Philip van Staden, het laasnag die LUR van veiligheid, Sizakele Nkosi-Malobane, telefonies van die voorval in kennis gestel. Die komiteevoorsitter van plaaslike regeringskomitee in die Gautengse wetgewer is ook in kennis gestel.

Die VF Plus het daarop aangedring dat die SAPD dadelik na die munisipaliteit uitgestuur word om die drama te ontlont. Die leier van die VF Plus in Gauteng, Jaco Mulder, het met die SAPD op Randfontein geskakel om hulp te ontbied. Raadslid van der Berg het van tyd tot tyd telefonies vanuit die raadsaal probeer kommunikeer.

Die raadslede was in die omgewing van 01:00 Donderdagoggend toegelaat om die raadsaal te verlaat.

Die VF Plus in Gauteng betreur hierdie voorval.

"Hierdie gebeure is ‘n bewys dat munisipaliteite in Gauteng nie verder kan funksioneer nie en onder geweldige finansiële druk is," sê Van Staden.

"Die VF Plus dring daarop aan dat die premier van Gauteng, David Makhura, die LUR van finansies, Barbara Creecy en die LUR van plaaslike regering, Uhuru Moiloa, dadelik ingryp by hierdie munisipaliteit om te verseker dat dienslewering kan voortgaan.

"Die VF Plus is verder van mening dat verskeie munisipaliteite in Gauteng dieselfde pad gaan stap. Emfuleni is reeds in chaos gedompel met dienslewering wat heeltemal tot stilstand gekom het, Rand West het sopas heeltemal in duie gestort, Merafong City is besig om in duie te stort en Mogale City is kort op hulle hakke.

"‘n Verandering van ‘n regering in die Gauteng-provinsie is van kardinale belang in 2019 om Gauteng van algehele ondergang te red. ‘n Skoon en werkbare regering, waarvan die VF Plus deel sal wees, sal ingestem moet word," sê van Staden.

DEEL DIT:

jongste artikels

Mediaverklarings
Armand Cloete

Premier moet ingryp by Matjhabeng-waterkrisis

Die VF Plus eis dat die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana, moet ingryp by die voortslepende waterkrisis in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia,

LEES MEER
Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.