"Die nood onder werklose mense in Suid-Afrika en die wat weens die nasionale inperking nie kan werk en ‘n salaris verdien nie is besig om kritieke afmetings aan te neem. Die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), hoewel oorval met eise en navrae, moet in hierdie tyd deursigtig en reaktief optree met betrekking tot die verwerking, betaling en terugvoering oor eise. Dit wil voorkom of die fonds nie tans die mas opkom wat eise en navrae betref nie," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van arbeid.
"Daar is steeds ‘n agterstand by die WVF betreffende die uitbetaling van eise wat selfs voor die inperkingsperiode ingedien is. Mense wat normaalweg van die fonds eis, het tot op datum nog nie hul normale maandelikse betalings vir Maart / April (vanjaar) ontvang nie.
"Baie nuwe eise is en word ook ingedien met betrekking tot die Covid-19-verligtingsfonds. Die WVF beskik klaarblyklik nie tans oor die vermoë om hierdie eise betyds en vinnig af te handel nie. Dit kom daarop neer dat die WFV bydra tot die maatskaplike krisis en nood wat duisende mense in Suid-Afrika tans ondervind.
"Die VF Plus is van mening dat die fonds nou met meer personeellede en hulpbronne versterk moet word om eise en die administrasie wat daarmee gepaardgaan so vinnig as moontlik te verwerk sodat uitbetaling spoedig gemaak kan word."
"Personeel van ander departemente, soos personeellede wat tans nie noodsaaklike werkers is nie en wie se vaardighede dit moontlik sal maak om tydelik na die WVF oorgeplaas te word, moet tydelik daarheen oorgeskuif word.
"Die departement van arbeid moet ook gereeld terugvoering gee oor die stand van die eise wat verwerk word sodat ‘n duidelike prentjie gevorm kan word oor hoeveel eise ingedien is, hoeveel verwerk is en wanneer uitbetaling sal geskied.
"Suid-Afrikaanse werkgewers en werknemers is tans in die donker oor die vordering wat op hulle eise gemaak word – indien enige. Behoorlike kommunikasie vanaf die fonds is noodsaaklik. Die WVF het ‘n hulplyn bekendgestel, maar klagtes deur die bank is dat daar geen antwoord is nie of dat bellers vir meer as ‘n uur moet aanhou voor die lyn beantwoord word. As die kapasiteit van die fonds uitgebrei word kan navrae ook beter hanteer word," sê Denner.