"Die verslag van die parlementêre komitee oor grondhervorming is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie en die gevolge van onteiening sonder vergoeding hang soos ‘n donker wolk oor Suid-Afrika se horison." Dit is hoe dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, vandag in die parlementêre debat oor onteiening sonder vergoeding gereageer het.
"Al Suid-Afrika se parlementslede het op Woensdag 21 Mei 2014 voor hierdie podium gestaan. Hier het ons 'n eed voor hoofregter Mogoeng Mogoeng gesweer om Suid-Afrika se Grondwet te handhaaf en te beskerm. Vandag sê julle nee wat, kom ons vergeet dié eed en verwyder 'n fundamentele beginsel van die land se Grondwet, 'n hoeksteen en basiese reg wat die wese vorm van die oppergesag van die reg in Suid-Afrika, soos vervat in die land se Grondwet.
"Onteiening sonder vergoeding is 'n kragtige instrument en dreigement in die hand van enige regering, totdat dit eindelik tog gebruik word. Dan word dit 'n giftige kelk teen die lippe. Onthou hierdie woorde en waarskuwing.
"Suid-Afrika is in hierdie haglike situasie omdat die EFF die ANC op 27 Februarie 2018 op ‘n slu wyse oorreed het om hom in die parlement te steun oor onteiening sonder vergoeding. Vanaf daardie oomblik het die EFF die inisiatief gehad oor die saak en die ANC het gevolg. Selfs die finale aanbeveling in hierdie verslag is deur die EFF voorgestel en deur die ANC gesekondeer.
"Onteiening sonder vergoeding het die vermoë om enige staat ‘n internasionale uitgeworpene te maak. Nie net president Donald Trump nie, maar selfs die egpaar Bill en Hillary Clinton het die ANC met hul besoek aan die land gewaarsku om nie die roete van onteiening sonder vergoeding te volg nie," het Mulder gesê.
Mulder het bygevoeg die parlement word mislei met die parlementêre komitee se verslag wat die parlement en die president nog in die verleentheid gaan stel.
Hy het gesê die verslag is nie die produk van 'n openbare deelnameproses, of van debat en ooreenkoms in die komitee nie en is fundamenteel gebrekkig oor die volgende redes:
Openbare vergaderings:
Daar is 33 vergaderings in al nege provinsies gehou waar gemiddeld sowat 75 mense by elke vergadering gepraat het. Daar is gemiddeld sowat ‘n duisend mense hoofsaaklik daarheen aangery om deel te neem.
As hulle almal ten gunste van onteiening sonder vergoeding was praat ons van 33 000 mense en almal was nie ten gunste daarvan nie.
Geskrewe voorleggings:
Op 14 Maart vanjaar het pres. Ramaphosa in die parlement die publiek versoek om aan die proses deel te neem. Hulle het in groot getalle gehoor gegee aan sy versoek.
Meer as 630 000 skriftelike voorleggings is ontvang en meer as 200 000 e-posse is na die parlement gestuur. Nie een daarvan is aan die komitee of sy lede beskikbaar gestel nie. Die komitee het geen verslag wat handel oor die skriftelike voorleggings aangeneem of selfs net bespreek nie.
Wat skriftelike voorleggings aanbetref, was 75% gekant teen enige verandering aan die Grondwet.
Mondelinge aanbiedings:
"Daar is meer as vyftig mondelinge aanbiedings voor die komitee gedoen deur die burgerlike samelewing, akademici en sakewêreld – soos Business SA, die Vereniging van Banke en selfs Cosatu. Hiervan het 77% gesê die Grondwet moet nie verander word nie.
"Op 31 Julie, in die middel van die proses om oor die saak te besluit, het president Ramaphosa egter gesê: "Die ANC sal deur die parlementêre proses 'n voorgestelde wysiging aan die Grondwet finaliseer." Dit dui onteenseglik daarop dat hy toe reeds besluit het dit sal gedoen word, ongeag die openbare mening.
"In die hele proses is daar nooit in die komitee enige debat van enige aard toegelaat nie. Hoegenaamd geen debat nie. Dit is die eerste komitee sedert 1994 in Suid-Afrika se demokratiese parlement waar geen debat toegelaat is oor die inhoud of meriete van enige enkele feit wat onder die aandag van die komitee gebring is nie.
"Dit het verder gegaan. Selfs die finale aanbeveling wat vandag na die parlement gebring is, is nie gedebatteer nie. Geen debat is toegelaat nie. Die notule van die vergaderings sal dit bewys, alhoewel notules van die laaste twee vergaderings van die komitee nooit beskikbaar gestel is of aanvaar is nie.
"Die land en die wêreld moet daarvan kennis neem dat die proses wat die komitee gevolg het, ‘n blote charade was. ‘n Klugspel wat die geld en tyd van duisende mense gemors het. Die verslag is daarom nie die papier werd waarop dit gedruk is nie en moet verwerp word.