"Kwotas vir die verteenwoordiging van vroue, soos die ANC dit toepas, is nie gelykstaande aan ware geslagsgelykheid nie," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van vroue, jeugdiges en gestremdes.
"Die ANC se kwotas en geslagsgegronde regstellende aksie-wetgewing en -beleid sê vir jong meisies dat hulle nie goed genoeg is nie; dat hulle nie gelyk is nie; dat hulle wette en wetgewing nodig het om 'n werk of 'n beurs te kry.
"Hierdie ANC-siening is onwaar. Vroue is gelyk en het nie kwotas nodig om in die samelewing te vorder nie. Vroue kan en moet op meriete aangestel word. Dit is die fundamentele beleid van die VF Plus en spreek die oortuiging uit dat alle mense gelyke geleenthede moet kry.
"Suid-Afrika fokus egter nie op 'n gelyke toekoms of geleenthede vir almal nie. Ons leer nie ons meisies om sterk en onafhanklik te wees, en hard te werk vir wat hulle wil bereik nie. Ons leer hulle om weg te kruip agter hul geslag wat gelyke uitkomste eis eerder as gelyke geleenthede.
"Ons moet meisies leer om nie na 'n held te soek nie, maar om die held te wees. Ons moet ons meisies leer dat hulle nooit moet twyfel dat hulle waardevol en sterk is en elke kans in die wêreld verdien nie. Vroue moet mekaar ondersteun en daar wees vir mekaar, maar terselfdertyd moet daar gewaak word teen blindelingse ondersteuning van wanbestuur en ander wandade bloot omdat dit deur vroue gepleeg is."
"Onlangse gebeure in die Mangaung-metro kan dit nie duideliker illustreer nie waar die burgemeester, Olly Mlamleli, op grond van 'n VF Plus-mosie van wantroue uit haar amp verwyder is, maar haar heraanstelling gevra is deur die ANC-vroueliga.
"Dit is nie goed vir vroue of vir gelykheid nie, maar neem in werklikheid die stryd om geslagsgelykheid agteruit. Ons doen 'n beroep op die ANC-vroueliga en alle vroue in Suid-Afrika om die vrou te wees wat jy wil hê jou dogter moet wees.
"Tydens die Covid-19-pandemie het vroueleiers regoor die wêreld uitstekend die weg gewys in die hantering van die pandemie. Net nie in Suid-Afrika nie. Vroulike leiers van die regerende party het deur drakoniese, onlogiese maatreëls, meer skade aan die ekonomie aangerig as wat die virus ooit kon doen.
"Hulle is kwotas en kaders en doen vroue ‘n onguns aan. Ons verwag beter van ons vroulike leiers, veral as hulle aan bewind is," sê Breedt.