Die finansiële gevolge vir Suid-Afrika indien hy op die internasionale “gryslys” sou beland, sou ernstig en nadelig wees, veral wat handel met ander lande aanbetref.
Dit sou beleggersvertroue skaad en die land se ekonomie verdere skade berokken. Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie.
Dit beteken egter nie dat swak wetgewing inderhaas geskep moet word en die wetgewende proses gestoomroller word net om die gryslys te vermy nie.
Dit sal eiesoortige nadelige gevolge skep en in die proses word die parlementêre proses bloot misbruik as ’n rubberstempel.
Die probleem is grootliks veroorsaak deur die uitvoerende gesag wat nie voortydig aandag geskenk het aan die oorsake wat lande op dié lys van die internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF) laat beland nie.
Die doel van die FATF is om lande teen geldwassery en terrorisme-finansiering te beskerm.
Benewens die gebrekkige prosesse met die wysigingswetsontwerp, is ’n verdere probleem een van ’n regering wat nie kan toesien dat selfs goeie wette uitgevoer en gepolisieer word nie. Daar is talle hiervan in die land.
Nakomingsvereistes in die wet sal dit vir nieregeringsorganisasies en wetsgehoorsame sake-ondernemings moeilik maak om te sake te doen en geld te ontvang.
In hierdie geval word nie opgetree in die belang van die mense van Suid-Afrika of die grondwetlike demokrasie nie.
Die Zondo-kommissie het die mislukkings van parlementêre oorsig uitgewys weens die ANC-meerderheid se optrede. Wette wat sonder goeie oordeel deurgestoomroller word, is deel daarvan.
Van hierdie wette word later suksesvol in die Grondwethof omgekeer. Maar steeds weier die ANC hardkoppig om ander partye se mening in ag te neem. Dit sal met hierdie wetgewing ook gebeur.