fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC erken hy het misluk met debat oor transformasie

“Ná 25 jaar aan bewind is die parlementêre debat oor transformasie van Suid-Afrika se ekonomie om die bevolking te dien, ‘n erkenning van die ANC dat hy volkome misluk het as regering van die land en dat sy skadelike beleid slegs bygedra het tot die vernietiging van die ekonomie,” sê adv Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.

Alberts sê die ANC het inderdaad reggekry om die land se ekonomie ingrypend te transformeer. Dit moet gemeet word aan ANC-logika wat transformasie gereduseer het tot ‘n obsessie met rasseverteenwoordiging ten alle koste, veral van ondervinding en vaardighede.

“Die gevolg is dat die ANC die land die afgrond in getransformeer het. Die lys van ‘transformasie-suksesse” in ANC-terme is duiselingwekkend.

“Eskom is grootliks deur Regstellende Aksie (RA) getransformeer tot ‘n leë dop wat die ekonomiese fondasie van die land weggekalwe het. Om dié skande te kroon is Eskom selfs op hierdie oomblik besig met verdere transformasie-planne om van nog meer ingenieurs ontslae te raak bloot omdat hulle wit is.

“Dié absurditeit is in Suid-Afrika ‘n ANC-realiteit. Dienslewering is altyd ondergeskik aan transformasie.

“Die oorsaak van ekonomiese agteruitgang het dus te doen met die maatstaf van sukses.

“Die VF Plus sien sukses as ‘n meriete-gegronde proses en eindproduk of -diens wat kan meeding met die beste in die wêreld. Die ANC daarenteen sien sukses as ‘n transformasie-proses en eindproduk of -diens waaraan die korrekte hoeveelheid swart persone deelneem ongeag of dit werk of nie werk nie.

“Indien ‘n ekonomie dus gereduseer moes word ‘n rasse-sensus van kaartdraende ANC-lede met min of geen agting vir verdienste, sou ervare wit en swart mense nie in die openbare sektor wou werk nie en sou hulle, soos talle Eskom-ingenieurs, eindelik na ‘n ander land beweeg wanneer die private sektor ook die transformasie-doelwitte van die ANC weerspieël.

“Ras moet nou vervang word met meriete om die ekonomie te verbeter, en klem moet geplaas word op die beskerming van eiendomsreg eerder as die bedreiging daarvan.

“Op 8 Mei vanjaar kry kiesers die geleentheid om saam met die VF Plus terug te slaan teen ‘n regering wat alles in sy pad vernietig en waar elkeen se verkiesingskruisie die koers kan aandui na ‘n suksesvolle Singapoer-model of ‘n Venezuela-ramp bekook op die ANC se transformasie-resep.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.