Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus gekant teen voorgestelde hersonering vir beplande sonplaas en datasentrum in Moorreesburg

Die VF Plus het saam met plaaslike grondeienaars en inwoners van Moorreesburg formeel beswaar aangeteken teen die voorgestelde hersonering van verskeie erwe in Hooikraal vir die oprigting van ’n sonplaas, battery-energiebergingsfasiliteit en datasentrum.

Die aansoek behels die hersonering van die betrokke erwe vanaf residensieel na ’n spesiale sone.

Die gemeenskap is sterk gekant teen die voorgenome ontwikkeling en is van mening dat die breër openbare belang voorkeur moet geniet bo die kommersiële belange van die aansoeker, die B & S Trust.

Hooikraal vorm ’n belangrike deel van Moorreesburg se geskiedenis en erfenis. Die gebied se wortels strek terug tot 1839 en word gekenmerk deur ’n gevestigde landbougemeenskap en ’n sterk geloofs- en gemeenskapskultuur.

Inwoners is bekommerd dat die voorgestelde hersonering die deur kan oopmaak vir grootskaalse industriële ontwikkeling wat die landelike karakter van die gebied onherroeplik sal verander.

Die voorgestelde datasentrum wek besondere kommer. Volgens die aansoeker se eie motiveringsverslag is die betrokke eiendomme onontwikkeld en hoogs vatbaar vir oorstromings, aangesien dit binne die 1:50-jaar-vloedlyn geleë is.

Hoewel die aansoeker aanvoer dat die grond weens die vloedrisiko nie geskik is vir landbou-aktiwiteite of behuising nie, word dit terselfdertyd as geskik geag vir die oprigting van ’n datasentrum, batterybergingsfasiliteite en sonkraginfrastruktuur.

Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die langtermynvolhoubaarheid, veiligheid en omgewingsimpak van die voorgestelde ontwikkeling.

Inwoners is verder bekommerd oor die moontlike gevolge van 24 uur per dag industriële bedrywighede, verhoogde verkeersbewegings, geraasbesoedeling en die invloed wat dit op die rustige landelike leefomgewing kan hê. Die ontwikkeling kan ook bestaande landboubedrywighede en veeboerdery in die omgewing ontwrig.

Artikel 24 van die Grondwet waarborg elke persoon die reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welstand is nie. Die VF Plus dring daarom aan op ’n omvattende omgewingsimpakstudie, asook ’n deursigtige en betekenisvolle openbaredeelnameproses voordat enige besluit oor die voorgestelde ontwikkeling geneem word.

Indien die Swartland-munisipaliteit se beplanningstribunaal nie kan aantoon dat die ontwikkeling die openbare belang dien en dat alle risiko’s voldoende aangespreek is nie, behoort die aansoek afgekeur te word.

Die betrokke erwe moet hul huidige residensiële karakter behou en die unieke landelike erfenis en leefwyse van Hooikraal moet beskerm word vir huidige en toekomstige geslagte.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.