Terwyl verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA op ’n naaldpunt gebalanseer is, het die DA se hoofstrateeg, Ryan Coetzee, olie op die ANC se anti-Amerikaanse optrede gegooi met ’n skerp aanval op die VSA en Westerse waardes in die algemeen.
Coetzee het in reaksie op ’n belangrike toespraak van die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, op 7 Oktober 2026 by die Akropolis in Athene, Griekeland, op X verklaar dat leiers soos Rubio ’n “tradisie” verteenwoordig wat “die verkeerde een” is en dat dit “weer en weer en weer verslaan moet word”.
Hierdie aanval is skokkend, onverantwoordelik en uiters skadelik vir Suid-Afrika se internasionale betrekkinge – veral met die VSA.
Rubio het in sy toespraak klem gelê op die historiese fondamente van demokrasie en vryheid wat uit antieke Griekeland gespruit het. Hy het ’n pleidooi gelewer dat die Weste sy identiteit, waardes en moed moet herontdek, en het beklemtoon dat die Westerse beskawing die moeite werd is om te beskerm.
Die VF Plus stem heelhartig hiermee saam en vind dit kommerwekkend dat ’n persoon wat optree as die DA se belangrikste strateeg, rigtingwyser en koördineerder van DA-ministers in die regering van nasionale eenheid (RNE), dieselfde anti-Amerikaanse sentimente en vyandigheid teenoor die Trump-administrasie as die ANC koester.
Terwyl Suid-Afrikaanse sakeondernemings, die landboubedryf en gewone landsburgers die prys betaal vir die ANC se vervreemding van Westerse vennote, kies die DA se topstrateeg om olie op die vuur te gooi deur sleutelleiers van Suid-Afrika se belangrikste ekonomiese vennote aan te val.
Die DA kan nie hieroor op twee stoele sit nie. Die party sal onomwonde moet sê of hy met Coetzee se uitlatings en sienings saamstem, aangesien hy as een van die groot meningsvormers in die party beskou word. Indien die DA van Coetzee verskil, sal die party hom summier moet afdank.
Dit is wel kommerwekkend en veelseggend dat die DA tot nou toe nie uit sy eie gereageer het op Coetzee se uitlatings nie.
Indien die DA werklik verbind is tot die herstel van Suid-Afrika se internasionale betrekkinge en die beskerming van die ekonomie, kan hy nie toelaat dat sulke roekelose uitsprake vanuit sy binnekringe gemaak word nie.


