Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus betuig medelye by Witkruismonument: Elke kruis ‘n onweerlegbare getuie van die plaasmoord-realiteit

Die leier van die VF Plus, dr. Corné Mulder, het vandag die planting van 17 kruise vir plaasmoordslagoffers by die Witkruismonument teen die Ysterberg in Limpopo bygewoon en het die kruise formeel vir planting oorhandig.

Twee van die kruise was herplantings. Die ander 15 verteenwoordig moorde sedert 30 Junie verlede jaar tot 1 Augustus vanjaar.

Die monument, wat sowat 3 000 kruise bevat, dien as ‘n belangrike baken van bewusmaking rondom plaasmoorde. Dit bied ook aan naasbestaandes die geleentheid om finaal afskeid van hul geliefdes te neem.

Dit is belangrik vir naasbestaandes om op hierdie manier te kan sien dat hulle nie alleen staan in hul uur van droefheid nie en help om berusting te bring. Dit is die minste wat mede-Suid-Afrikaners vir hulle kan doen.

Vir die VF Plus is sy voortgesette betrokkenheid by die monument ‘n opregte poging om medelye te betuig met die familie en vriende van die vermoordes.

Elke kruis verteenwoordig nie net die hartseer en verskrikking van ‘n plaasmoord nie, maar dien ook as bewys aan die wêreld van die realiteit daarvan, én die ewe tragiese ontkenning van hierdie werklikheid deur die land se regering en president.

Tog is daar geen ruimte vir twyfel oor die feite nie. Elke kruis bevat ‘n foto van die afgestorwene, ‘n geboortedatum en die datum van afsterwe. Dit kan sodoende deeglik geverifieer word.

Solank as wat prominente politici soos Julius Malema liedere soos “Kill the Boer” sing, soos wyle Peter Mokaba voor hom, en dit swyend deur die regering goedgekeur word, sal die VF Plus nie aanvaar dat plaasmoorde toevallige misdaadverwante voorvalle is nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het met die vlaag vermoedelik reeksmoorde op vroue aan die Oos-Rand, wat nou op nege staan, dadelik sy simpatie betuig en gesê dit is ‘n “nasionale krisis” en dat die ondersoek geprioritiseer moet word.

Die VF Plus wil herhaal dit is reg en goed so. Dit is die regte optrede. Die party sal net wil sien dat die president op dieselfde wyse plaasmoorde erken, dit kritiseer en prioriteit daaraan gee. Dit ontken hy egter voor die wêreld.

Die party sal voortgaan om hierdie euwel onder die aandag van die internasionale gemeenskap te bring totdat die regering die werklikheid daarvan erken en daadwerklike stappe neem om alle landelike geweld en moorde doeltreffend te bestry.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.