Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni kan nie aanhou om miljoene af te skryf sonder aanspreeklikheid

Die Ekurhuleni-metro se voortgesette versuim om behoorlike aanspreeklikheid en gevolgbestuur ten opsigte van onreëlmatige uitgawes te verseker, is onaanvaarbaar.

Tydens ’n raadsvergadering op 31 Augustus is aanbevelings aan die raad voorgelê om meer as R140 miljoen se historiese onreëlmatige uitgawes af te skryf. Dit is maar ’n druppel in die emmer van die miljarde rande wat die afgelope vyf jaar afgeskryf is.

Een van hierdie verslae alleen beveel aan dat R53 104 669 as oninvorderbaar afgeskryf word. Die verslag erken verder dat dokumentasie en in sommige gevalle, personeel wat by hierdie historiese aangeleenthede betrokke was, nie meer beskikbaar is nie.

Die VF Plus kan nie ’n stelsel steun waar onreëlmatige uitgawes jare lank onopgelos bly totdat behoorlike ondersoeke of die verhaal van geld al hoe moeiliker word en die uiteindelike oplossing bloot is om dit af te skryf nie.

Die afskryf van onreëlmatige uitgawes mag nooit ’n plaasvervanger vir gevolgbestuur word nie.

Waar amptenare vir wangedrag of nalatigheid verantwoordelik is, moet hulle aanspreeklik gehou word. Waar geld verhaal kan word, moet dit verhaal word. Waar kontrakteurs versuim om hul verpligtinge na te kom, moet die metro beslissend optree.

Elke rand wat die metro bestee, behoort aan die inwoners van Ekurhuleni. Daar word van inwoners verwag om hul munisipale rekeninge te betaal en die wet na te kom. Hulle het daarom die volste reg om dieselfde standaard van aanspreeklikheid van die munisipaliteit te verwag.

Die VF Plus sal voortgaan om te veg vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordelike bestuur van openbare fondse.

Die party sal hom nie blind staar teen korrupsie, wanadministrasie of die misbruik van inwoners se geld nie.

Ekurhuleni het ’n kultuur nodig waar oortredings gevolge het, nie ’n kultuur waar mislukkings uiteindelik afgeskryf en vergeet word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.