Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni-behuisingsmaatskappy moet nou kwartaalliks verslag doen

Die VF Plus se aanbeveling dat die Ekurhuleni-behuisingsmaatskappy voortaan kwartaalliks aan die finansiële- en menslike nedersetting-oorsigkomitees verslag moet doen, is tydens ’n raadsvergadering van die Ekurhuleni-metro aanvaar.

Die VF Plus het beklemtoon dat dit nie voldoende is dat die raad bloot kennis neem van verslae sonder ’n meganisme om probleme en vordering deurlopend te monitor nie.

Alhoewel die Ekurhuleni-behuisingsmaatskappy se huurinvorderingskoers in die derde kwartaal (Januarie tot Maart) van die 2025/26 finansiële jaar tot 41% verbeter het vanaf 39% in die vorige kwartaal, bly die finansiële- en operasionele uitdagings by die entiteit ’n bron van kommer.

Die VF Plus het voorgestel dat die volgende kwartaalliks aan die komitees gerapporteer word:

• Inkomste- en huurinvorderingsprestasie
• Uitstaande huurderskuld
• Kredietbeheer- en skuldinvorderingsmaatreëls
• Onwettige besetting van wooneenhede
• Vordering met omkeermaatreëls by swakpresterende residensiële komplekse

Die aanvaarding van hierdie aanbeveling skep ’n konkrete meganisme vir deurlopende toesig en maak dit moeiliker dat swak invordering, groeiende skuld en ander probleme net kwartaal na kwartaal aangeteken word sonder opvolging.

’n Klein verbetering in invorderingspersentasies beteken nie dat die onderliggende probleme opgelos is nie. Wanneer skuld ophoop en wooneenhede onwettig beset word, plaas dit verdere druk op die entiteit se volhoubaarheid.

Die VF Plus glo dat toesig nie eindig wanneer ’n verslag voor die raad dien nie – dit is waar aanspreeklikheid begin.

Die party sal die kwartaallikse verslae noukeurig monitor en aandring op regstellende optrede, meetbare vordering en werklike aanspreeklikheid.

Openbare geld en munisipale bates moet verantwoordelik bestuur word. Die raad se plig is nie net om probleme te identifiseer nie, maar om te verseker dat dit reggestel word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.