Die departement van streeksbedrywighede en koördinering van die Tshwane-metro sukkel volgens die VF Plus om begraafplase te bestuur en sal nié nog ‘n krematorium ook op sy hande kan neem nie.
Die VF Plus het Donderdag ’n voorstel verwerp wat sou beteken dat die bestuur van die Rebeccastraat-krematorium in die weste van Pretoria na die metro se departement van streeksbedrywighede en koördinering geskuif word. Dié krematorium is die enigste een van sy soort in Pretoria en is dus van uiterste belang vir inwoners van die stad.
Die verslag waarin die voorstel vervat was, is aan die oorsigkomitee vir omgewing- en landbousake voorgelê.
Die departement van streeksbedrywighede en koördinering bestuur tans alle begraafplase in Pretoria, waarvan die meeste in ’n haglike toestand verkeer.
Die VF Plus kan nie ’n verslag steun wat die krematorium onder dieselfde departement plaas wat nie eens die begraafplase na behore kan bestuur nie. Die party se teenstem het daartoe gelei dat die verslag verwerp is.
Die VF Plus is tevrede dat die krematorium steeds onder die toesig van die departement van omgewing- en landbousake bly. Die party sal aanhou om sentralisering teë te staan om te verseker dat departemente binne die metro verantwoordelikheid neem vir hul onderskeie take.
Die verwerping van hierdie verslag toon dat daar ’n wending is in aanloop tot die munisipale verkiesing op 4 November 2026.
Dit is juis waarom dit noodsaaklik is dat die VF Plus se invloed op plaaslike regeringsvlak versterk word – sodat voorstelle wat dienslewering en bestuur benadeel, gekeer kan word.


