Eienaars van kleinhoewes in die Sundra-omgewing (Delmas) het ’n groot oorwinning behaal nadat die Victor Khanye-plaaslike munisipaliteit tydens ’n spesiale raadsvergadering besluit het om die onlangse, onregverdige herklassifisering van landbou- na residensiële tariewe te herroep.
Die munisipaliteit het in 2025 alle landboutariewe na residensiële tariewe verander, wat gelei het tot ’n buitensporige tariefverhoging van 300% per kleinhoewe. Om sake te vererger, het eienaars vanaf Maart 2026 rekeninge ontvang wat teruggedateer is na Julie 2025.
Hierdie omdraaibesluit volg op maande van volgehoue druk deur die VF Plus en die plaaslike gemeenskap.
Die party het die munisipaliteit daarop gewys dat die nodige openbare deelnameprosesse nie gevolg is nie. Inwoners het ook die howe genader om verdere regsdruk te plaas.
Die saak is verder op provinsiale vlak opgeneem, waar die VF Plus-LPW, Werner Weber, direk met Mpumalanga se LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Speed Mashilo, geskakel het.
Hierdie skakeling, tesame met beraadslaging met die Nkangala-distrikswaardeerder, het die deurslag gegee.
Wat die pad vorentoe vir geraakte inwoners behels:
• Rekening-regstelling: Alle betrokke en foutiewe munisipale rekeninge sal nou reggestel word.
• Ondersoek en herklassifisering: Die waardeerder sal alle geraakte eiendomme nagaan. Eiendomme wat kwalifiseer, sal na die landboutarief teruggeplaas word.
• Aanvullende waardasielys: Ná afhandeling van die ondersoek sal ’n aanvullende waardasieverslag opgestel en versprei word om die uitslag van elke eiendom te bepaal.
• Openbare deelname en beleidshersiening: Die munisipaliteit het onderneem om sy tariefbeleid te hersien en om seker te maak dat ’n behoorlike openbare deelnameproses gevolg word sodat inwoners die geleentheid het om beswaar aan te teken.
Hierdie voorlopige sukses bewys die krag van ’n gemeenskap wat saamstaan en ’n party wat sake op die hoogste vlak opneem.
Inwoners word intussen gemaan om waaksaam te bly, aangesien die munisipaliteit waarskynlik binne die komende jaar sal poog om hierdie proses streng volgens wet van voor af ter tafel te lê.


