Die VF Plus vra ’n onafhanklike ondersoek na die wyse waarop die Hessequa-munisipaliteit ’n gedeelte van erf 657 in Stilbaai-Wes vir vervreemding en ontwikkeling hanteer het.
Die 3,29 ha-gedeelte van erf 657, geleë op die hoek van Hoofweg-Wes/MR332 en die Jongensfontein-pad/MR331, is op 23 Desember 2025 op ’n openbare veiling aan Ziphon Trading and Investment (Pty) Ltd verkoop.
’n Omgewingsondersoek het intussen ’n hoë konsentrasie beskermde bome en sensitiewe plantegroei op die terrein geïdentifiseer. Daar is nou ’n voorstel om die ontwikkelingsgebied te “verskuif”, wat vrae laat ontstaan oor die geldigheid van die oorspronklike besluit en die aard van die eiendom wat op die veiling verkoop is.
’n Biodiversiteits- en etnobotaniese opname wat in 2019 gedoen is, het 184 plantspesies op Erf 657 aangeteken, waarvan 176 inheems en 55% endemies aan die Groter Kaapse florastreek is. Agt spesies van nasionale bewaringsbelang is geïdentifiseer, insluitend bedreigde en plaaslik endemiese plante. Die terrein vervul ’n belangrike ekologiese verbindingsfunksie tussen binnelandse natuurgebiede, die Skulpiesbaai-natuurreservaat en die Goukourivier.
Die verslag het ook gewaarsku dat die strandveldplantegroei op antieke duine onvoldoende gekarakteriseer is.
Daar is sprake van ’n voorgestelde 32,9 ha biodiversiteitskompensasiegebied, maar die openbare kennisgewing bied geen duidelikheid oor ligging, eienaarskap, waarde of regsbeskerming nie.
Die VF Plus versoek dat alle relevante biodiversiteits- en omgewingsverslae, kaarte, waardasies, veilingsvoorwaardes en raadsbesluite vir openbare insae beskikbaar gestel word voordat inwoners hul kommentaar en besware voor of op 4 September 2026 kan indien.
Geen oordrag, finale onderverdeling of wesenlike wysiging van die koopooreenkoms behoort plaas te vind voordat openbare deelname afgehandel en onafhanklike regs-, omgewings- en nakomingsondersoeke voltooi is nie.
Die ondersoek moet onder meer vasstel of die 2019-verslag behoorlik oorweeg is, watter inligting beskikbaar was toe die ontwikkelingsgebied gekies is, en of die nodige inligting volledig aan die raad en publiek voorgelê is.
Die inwoners van Hessequa verdien deursigtigheid en sekerheid dat munisipale bates, openbare geld en die gebied se biodiversiteit behoorlik beskerm word.


