Die Stoffberg-duikweg in Brakpan, wat in Julie vanjaar heropen is ná herstelwerk, toon reeds ernstige tekens van verswakking.
’n Nuwe slaggat en sigbare krake het binne weke ontstaan, wat die pad se veiligheid en bruikbaarheid ondermyn.
Tydens ’n oorsigbesoek op 18 Augustus was dit duidelik dat die teer binne die herstelde deel vanaf Goodsweg in die rigting van die stasie, reeds opbreek. Die slaggat word daagliks groter en verdere krake is sigbaar.
Die VF Plus het op 5 Februarie vanjaar die burgemeester van die Ekurhuleni-metro, Nkosindiphile Xhakaza, versoek om dringend aandag aan die onbruikbare pad te gee. Die party het ook in ’n raadsvergadering gevra wanneer die duikweg herstel sou word.
Die metro het toe onderneem om die padherstelwerk en stormwaterstelsel teen 30 April te voltooi.
Werk het egter eers in Mei begin en is eers in Julie afgehandel.
Die duikweg was vir ’n lang tyd gesluit, wat inwoners ernstig verontrief het. Dit is een van Brakpan se hoofroetes wat gemeenskappe aan weerskante van die spoorlyn verbind.
Die party het die huidige toestand onder die aandag gebring van die burgemeesterskomiteelid vir paaie, Lindiwe Mnguni, en die voorsitter van die oorsigkomitee vir vervoerbeplanning, paaie en stormwater.
Die VF Plus versoek nou dat ’n behoorlike verslag aan die raad voorgelê word oor die toestand van die pad en of die kontrakteurs verantwoordelik gehou gaan word.
Inwoners het jare se oorstromings en gevaarlike padtoestande verduur, insluitend die noodlottige voorval op 26 Februarie 2024 toe ’n 67 jarige motoris verdrink het nadat sy voertuig in vloedwater onder die spoorbrug vasgesit het.
Hierdie tragedie het die gevaar van swak stormwaterbestuur en padinstandhouding duidelik uitgelig. Motoriste kan nie weer blootgestel word aan substandaard werk nie en daar kan nie van hulle verwag word om twee keer te betaal vir herstelwerk wat binne weke faal nie.
Belastingbetalers werk hard vir hul geld. Die tyd is nou om die ANC-koalisie te vervang met ’n party wat behoorlike vakmanskap en verantwoordelike finansiële bestuur vereis.
Stem daarom op 4 November vir die VF Plus.


