Die VF Plus is sterk gekant teen die AbaQulusi-plaaslike munisipaliteit (Louwsburg, Vryheid) se voorstel dat kwalifiserende verbruikers slegs 30% van hul uitstaande munisipale skuld betaal, terwyl 70% afgeskryf word.
Volgens die munisipaliteit se eie memorandum beloop die totale uitstaande verbruikerskuld bykans R642 miljoen, waarvan sowat R564 miljoen ouer as 60 dae is.
Die munisipaliteit hoop om R169 miljoen in te vorder en R395 miljoen af te skryf. Dit beteken byna R400 miljoen se invorderbare skuld word prysgegee vir ’n relatiewe klein kontantbedrag.
Die werklike vraag is: Hoeveel van die R564 miljoen kon steeds deur behoorlike kredietbeheer, betalingsreëlings en regstappe ingevorder word sonder om 70% prys te gee?
Uitstaande skuld het van sowat R273 miljoen in 2021/22 tot sowat R618 miljoen in 2025/26 toegeneem. Dit is meer as 120%. ’n Eenmalige afskrywing behandel die simptoom, nie die oorsaak nie.
Die voorstel skep ’n onbillike situasie. Inwoners wat getrou betaal, kry geen voordeel nie, terwyl dié met groot agterstallige skuld ’n massiewe korting kan kry. Dit stuur die verkeerde boodskap en skep die verwagting dat nie-betaling later beloon kan word.
Die VF Plus is nie gekant teen gerigte hulp aan werklik kwesbare huishoudings nie. ’n Algemene 70%-afskrywing sonder behoorlike ontleding van die skuldboek is egter onaanvaarbaar. Die raad moet eers weet wie skuld, hoe oud dit is, watter gedeelte werklik oninvorderbaar is en watter invorderingsstappe reeds geneem is.
Die nasionale tesourie (NT) het onlangs reeds dele van AbaQulusi se billike aandeel weerhou weens swak finansiële bestuur. In hierdie konteks mag ’n R395 miljoen-afskrywing nie haastig goedgekeur word nie.
Die VF Plus versoek die raad om die voorgestelde skema in sy huidige vorm te verwerp. Eers moet die munisipaliteit bewys dat redelike invorderingsmeganismes uitgeput is, duidelik aandui wie baat vind en ’n geloofwaardige plan voorlê om te verhinder dat dieselfde krisis weer ontstaan.
AbaQulusi het finansiële dissipline, doeltreffende invordering en aanspreeklikheid nodig, nie nog ’n skuldamnestie nie.


