Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Beoogde sluiting van Tulbagh-inmaakfabriek: VF Plus knoop reddingsgesprekke aan

Die VF Plus se kommer oor die beoogde sluiting van Premier Foods se Fruits Products Western Cape (FPWC)-aanleg in Tulbagh het reeds tot dringende gesprekke gelei om die aanleg te red.

Hierdie onderneming het voorheen behoort aan die Rhodes Food Group, maar is vroeër vanjaar deur Premier oorgeneem, wat dit sedertdien onder die naam FPWC bedryf. Appelkose, perskes en pere word hier verwerk.

Sowat 3 000 permanente en seisoenale werksgeleenthede by die aanleg, sowel as die poste van plaaswerkers is in gedrang.

Dié sluiting gaan nie net ‘n wesenlike impak op die streek se ekonomie hê nie, maar ook op die breë landbousektor in die Wes-Kaap.

Die party het ook verneem dat skrywes op kort kennisgewing aan personeel gestuur is, rakende gesprekvoering wat spoedig sou plaasvind. Slegs ‘n dag later is reeds begin om toerusting van die perseel te verwyder.

Die negatiewe impak van die sluiting word vererger omdat ‘n aanleg wat sap vir die uitvoermark voorberei, daarby ingesluit is.

Om aan hierdie markte te voorsien, is driejaarkontrakte met produsente gesluit. Premier Foods het egter aangedui dat hulle dié kontrakte nie gaan nakom nie. In so ‘n geval sal produsente reeds in die 2026/27-seisoen met die vrugte opgeskeep wees.

Dit volg daarop dat produsente honderdduisende rande aan voorbereiding van grond en boorde vir die opkomende oes bestee het juis om húlle kant van die kontrakte na te kom. Hulle gaan nou noodgedwonge sit met vrugte wat nie ingeneem kan word nie.

Na raming sal nuwe markte vir 55 000 en 60 000 ton vrugte gevind moet word. Produsente sal op dié laat stadium vir die gelag moet betaal.

Die VF Plus neem aksie op twee vlakke: Eerstens is die eensydige en roekelose besluit onaanvaarbaar. Die party dring daarop aan dat gesprekke voortgaan, sonder ‘n voorafbepaalde uiteinde van sluiting.

Tweedens neem die party die voortou om alternatiewe oplossings te vind om die bedryf van finansiële ondergang te red.

‘n Oplossing, soortgelyk aan die een by Langeberg Foods, toe 2 500 werksgeleenthede met ‘n moontlike sluiting in gedrang was, is noodsaaklik. In daardie geval is die onderneming gered.

Indien die sluiting voortgaan, sal die negatiewe gevolge nie net in Tulbagh se direkte omgewing gevoel word nie, maar selfs so ver as die Langeberge. Die VF Plus doen reeds sy uiterste bes om dit te voorkom.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.