Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Springbok: Sportterrein of winkelsentrum? Nama Khoi moet weer dink

Die Nama Khoi-plaaslike munisipaliteit oorweeg tans om Springbok se sportterrein aan ontwikkelaars te verkoop wat beoog om ‘n winkelsentrum daar te bou.

Die VF Plus beskou dit as ‘n terugwaartse stap vir die hele Namakwaland.

Dit is verstaanbaar dat die munisipaliteit dit makliker vind om van die verwaarloosde terrein ontslae te raak as om dit op standaard te bring. Nogtans moet mens in ag neem dat dit vir ‘n baie groot streek die enigste plek is waar sporttoernooie aangebied kan word.

Die helende krag van sport is welbekend. Dit help om afhanklikheid van drank en dwelms onder die jeug te bekamp en skep geleenthede om die gemeenskap byeen te bring. Vir talentvolle jongmense kan dit loopbaangeleenthede oopmaak.

Daarteenoor sal die winkelsentrum buite die dorp lê en sal dit reisigers eerder uit die dorp as deur die dorp neem.

Springbok het tans ‘n lewenskragtige sakekern. Die munisipaliteit onderhou dit goed en die hele gemeenskap en omliggende dorpe gebruik dit. Daar is ook ‘n verbypad wat swaar voertuie rondom die dorp neem. Hierdie winkelsentrum kan daartoe lei dat Springbok se middedorp, soos talle ander dorpe s’n, totaal verval.

Daarteenoor kan ‘n tartan-atletiekbaan vir skole-atletiek en streekskompetisies, ‘n
opgegradeerde rugby-, sokker- en krieketveld, moderne kleedkamers en ablusiegeriewe, veilige toeskouergeriewe, ruimtes vir gemeenskaps- en sportontwikkelingsprogramme nie net sportontwikkeling bevorder nie, maar ook streekstoernooie na Springbok lok.

Dit kan plaaslike ondernemings, gastehuise en die algemene ekonomie tot voordeel strek.

Die keuse is tussen vinnige wins met twyfelagtige langtermyn-voordele en ‘n doelgerigte belegging wat sosiale – en ekonomiese voordele inhou. Die VF Plus roep inwoners van Springbok op om hul stem hieroor te laat hoor.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.