Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus wens nuutverkose DA-leier geluk

Die VF Plus dra hiermee sy opregte gelukwensing oor aan mnr. Geordin Hill-Lewis met sy verkiesing vandag as federale leier van die Demokratiese Alliansie (DA).

Die VF Plus bly daartoe verbind om met politieke partye saam te werk wat na oplossings streef om van Suid-Afrika ‘n beter land te maak. Ook met partye wat sal saamwerk om die uitgediende en mislukte ideologies gedrewe beleidsrigtings van die ANC, MK en EFF daadwerklik teen te staan en wat ontvanklik sal wees vir koalisies wat hierdie groeperinge beperk en nie bevorder nie.

Die VF Plus hoop dat die DA onder die leierskap van mnr. Hill-Lewis hieronder getel sal kan word.

Dit is belangrik om daarop te let dat die DA hom tydens sy 2026-kongres geposisioneer het as ‘n party in die middel van die politieke spektrum in Suid-Afrika; ‘n sogenaamde sentrum-party.

Dit moet nie verwar word met die DA se werklike posisie links van die sentrum as ‘n liberale party gefokus op slegs individuele regte nie. Die gevaar van ‘n sentrum-posisionering is dat só ‘n party nog vis nog vlees is en probeer om alles vir almal te wees, maar dan eindig as niks vir niemand nie.

Dit is ook daar in die middel van die pad waar mens omgery word.

Hierteenoor staan die VF Plus onomwonde as ‘n konserwatiewe politieke party net regs van die sentrum gegrond op christelike- en konserwatiewe waardes asook familiewaardes wat wêreldwyd telkens die toets van die tyd deurstaan het en wat die werklikheid van Suid-Afrika se diversiteit en verskeidenheid verreken as sterk boublokke vir ‘n veilige toekoms vir almal in die land.

Ons wens mnr. Hill-Lewis sukses toe in sy nuwe rol.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.