Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Waterkrisis in Phokwane: OG-verslag wys waarom

Die ouditeur-generaal (OG) het verlede week sy verslag van die 2023/24-geldjaar met die Noord-Kaapse wetgewer behandel. Daarvolgens het die Phokwane-plaaslike munisipaliteit in gebreke gebly om tien persent van die infrastruktuurtoelaag te bestee, terwyl verliese in water 67% en in elektrisiteit 60% van totale verbruik beloop het.

Die nasionale norm is onderskeidelik 15-30% en 7-10%. In geldwaarde is dit meer as R50 miljoen wat Phokwane bestee het, sonder om inkomste daaruit te verdien.

Om ter plaatse ondersoek in te stel het die VF Plus se LPW en voorsitter van die staande komitee vir plaaslike regering, mnr. Theo Joubert, saam met die party se raadslede in die Frances Baard-distriksmunisipaliteit en Phokwane-plaaslike munisipaliteit, me. Estelle Davies en mnr. Rickus te Baerts, vandag sleutelinfrastruktuur in Phokwane besoek.

Hierdie situasie is die direkte gevolg van jarelange infrastruktuurverval en ernstige bestuursgebreke. Inwoners van Hartswater en omliggende gebiede word daagliks geraak deur onbetroubare watervoorsiening. Die watersuiweringsaanleg funksioneer nie na behore nie weens ’n tekort aan kundige operateurs.

Hierdie werklikheid hou nie net ekonomiese implikasies in nie, maar stel ook die welstand van gemeenskappe in gevaar.

Voortdurende breek van pype en wateronderbrekings toon duidelik dat die netwerk oor jare heen verwaarloos is. Al is ‘n tender vir opgradering van die watersuiweringsaanleg toegeken, bly die tempo van implementering stadig. Hoewel dit ‘n positiewe stap is, is dit slegs een deel van die oplossing. Sonder dringende rehabilitasie en vervanging van die hele waterinfrastruktuur, sal die huidige krisis voortduur en selfs vererger.

Die VF Plus doen daarom ’n dringende beroep op beide die plaaslike- en distriksmunisipaliteit om hul grondwetlike verpligtinge na te kom en daadwerklik op te tree.

Die huidige vlak van waterverliese en diensineenstorting is onaanvaarbaar en vereis onmiddellike ingryping, insluitend beter bestuur, tegniese kapasiteit en infrastruktuurbeleggings.

Inwoners het die reg op betroubare, veilige en volhoubare waterdienste. Sonder vinnige en effektiewe optrede sal die finansiële verliese toeneem en die lewenskwaliteit van inwoners verder agteruitgaan.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.