Die VF Plus het verlede week ’n oorwinning vir die inwoners van Eduan Park in die Polokwane-plaaslike munisipaliteit behaal tydens ’n munisipale beplanningsverhoor deur ‘n summiere stakingsbevel te kry teen ’n onwettige gastehuis in die woonbuurt.
Die party het die Eduan Park-gemeenskapsforum en mnr. Daniel Scholtz as formele beswaarmakers in die aangeleentheid bygestaan.
Hierdie ondersteuning het verseker dat die gemeenskap se griewe binne die amptelike raamwerk van Polokwane se Munisipale Beplanningsverordeninge ingedien is.
Mnr. Scholtz het namens die geraakte inwoners deurslaggewende getuienis gelewer oor die ontwrigting wat die gastehuis veroorsaak.
Bewyse van verkeersbelemmering deur busse en taxi’s, geraas in die vroeë oggendure en rommelstrooiing is aan die paneel voorgelê.
Daar is verder bewys dat die gastehuis reeds langer as ’n jaar sonder die nodige sonering of lisensies sake doen, ten spyte daarvan dat die titelakte slegs residensiële gebruik toelaat.
Die voorsitter van die paneel het die aansoeker (gastehuiseienaar) se voorlegging kortgeknip nadat die omvang van die voortgesette wetsoortredings aan die lig gekom het.
Die paneel het beslis dat alle onwettige sakebedrywighede onmiddellik gestaak moet word en dat die hersoneringsproses opgeskort word totdat daar uitsluitsel is oor die aansoek om die skrapping van titelakte-beperkings.
Die beplanningsafdeling sal nou sy aanbeveling vir finale goedkeuring aan die munisipale raad voorlê.
Die VF Plus huldig die standpunt dat ontwikkeling noodsaaklik is vir groei, maar dat dit nooit ten koste van die reg of die karakter van gevestigde woonbuurte mag geskied nie.
Die beskerming van inwoners se regte en die handhawing van munisipale verordeninge is ononderhandelbaar.
Deur burgers by te staan om die korrekte kanale te gebruik, verseker die VF Plus dat die integriteit van woonbuurte soos Eduan Park behou word en dat owerhede binne die raamwerk van deursigtige wetgewing optree.


