Die burgemeester van die Ekurhuleni-metro, mnr. Nkosindiphile Xhakaza, se onlangse uitsprake dat die lang vertraagde SAAME-munisipale bouprojek in Germiston steeds binne die begroting is, is niks anders as misleidend nie.
Dié projek behels die opgradering van die SAAME-gebou tot ’n veeldoelige munisipale sentrum vir dienslewering.
Sedert die aanvang in 2017 het die projek egter herhaaldelik vertragings en koste-oorskrydings beleef. Die oorspronklike begroting was sowat R46 miljoen, met ’n beplande voltooiing in 2021.
Luidens forensiese en interne ouditverslae, het die totale koste teen 2025 reeds meer as R272 miljoen beloop, met berigte wat selfs meer as R300 miljoen noem weens onreëlmatige uitgawes, prysskommelinge en swak kontrakbestuur.
In Junie 2025 is ’n verdere R39 miljoen toegeken om die projek af te handel.
Tydens ’n inspeksie op 13 Maart 2026 het die burgemeester aangekondig dat die gebou nou 99,9% voltooi is, met slegs finale afrondings op die sogenaamde “lys van probleme” oor. Hy het beloof dat die sentrum in April 2026, of vroeg in Mei, amptelik sal open.
Die VF Plus beklemtoon dat hierdie gerusstellings misleidend is. Inwoners het reeds veelvuldige kere betaal vir ’n gebou wat jare lank onvoltooid staan terwyl die metro intussen ekstra uitgawes aangegaan het vir alternatiewe kantoorruimte en sekuriteit.
Die projek is lankal gekoppel aan ernstige bevindinge van wanbestuur en onreëlmatige uitgawes, insluitend ongemagtigde betalings, oordrewe materiaalpryse en swak vakmanskap. ’n Forensiese verslag het selfs aanbeveel dat die saak na wetstoepassing en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwys word vir verdere ondersoek.
Inwoners het die volste reg om ‘n duidelike, openbare opdatering te eis oor:
• Of die SOE die saak amptelik gaan ondersoek
• Of enige fondse wat onregmatig bestee is verhaal is, en of enige amptenaar of kontrakteur dissiplinêre of strafregtelike stappe in die gesig staar
• Die volle, finale koste van die projek, insluitend professionele fooie
• ‘n Geloofwaardige, vaste rooster vir okkupasie en operasionele gereedheid, sonder verdere verskonings en aangepaste sperdatums
Belastingbetalers van Ekurhuleni verdien eerlike kommunikasie en werklike aanspreeklikheid, nie stellings wat vertragings probeer versag nie.
Die VF Plus sal aanhou om deursigtigheid, gevolgbestuur en ’n volledige openbare verslag te eis oor elke rand wat aan hierdie projek bestee word.


