Die VF Plus ontvang deurlopend klagtes van inwoners wat beboet word vir die versuim van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Nelspruit, Barberton, Witrivier) om foutiewe voorafbetaalde kragmeters te vervang wat die munisipaliteit self omseil het.
Die boetes spruit uit die munisipaliteit se tariefbeleid wat enige omseiling as gepeuter beskou selfs waar die munisipaliteit self die omseiling gedoen het.
Baie van die voorafbetaalde kragmeters wat geïnstalleer is, was foutief of het nie behoorlik gewerk nie. Inwoners kon dus nie elektrisiteit koop of laai nie.
Die departement van energie het die meters omseil om te verseker dat huishoudings steeds krag het, met die belofte dat nuwe meters binne ’n kort tyd geïnstalleer sou word.
Daar is sommige inwoners wat reeds drie jaar met omseilde meters sit en het uiteindelik moed opgegee om die munisipaliteit te herinner om dit te vervang.
Ná ʼn onlangse meteroudit, word hierdie inwoners nou met boetes van R19 000 gestraf vir die beweerde gepeuter aan die meters tesame met ʼn geskatte verbruikskoste wat tot R90 000 kan beloop.
Dit is vir inwoners en die munisipaliteit self veral problematies omdat die tydsverloop sedert die omseilings dit byna onmoontlik maak om die nodige dokumentasie op te spoor.
Die VF Plus het reeds gevalle geïdentifiseer waar dieselfde amptenare wat destyds die meters omseil het, nou betrokke is by die boete-oplegging.
Die VF Plus wys daarop dat die munisipaliteit vroeër amnestie toegestaan het aan inwoners wat hul kragmeters onwettig omseil het. Dit maak dit des te meer onregverdig dat eerlike inwoners nou gestraf word vir meters wat die munisipaliteit self omseil het. Hierdie dubbele standaarde wys op ’n administrasie wat sy eie foute op belastingbetalers afskuif.
Die party het ’n skrywe aan die uitvoerende burgemeester, me. Sibongile Makushe-Mazibuko, gerig om duidelikheid te verkry oor die toepassing van die munisipaliteit se Elektrisiteitsvoorsieningsverordeninge en Tariefbeleid (2025/26).
Die VF Plus eis antwoorde om verdere onreg te voorkom en sal intussen inwoners bystaan met hul rekeningprobleme.


